Nuus 08:00
BULLETIN 22 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen ontvang die eerste besending van een-miljoen bek-en-klouseer-entstofdosisse
# SANRAL verhoog toltariewe
# En rugby, die Leeus is onder die VRK se top-agt nadat hulle met die Haaie afreken
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het die eerste besending van een-miljoen bek-en-klouseer-entstofdosisse amptelik ontvang. Dit het van Biogénesis Bagó in Argentinië op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, Ekurhuleni, aangekom. Steenhuisen sê die entstowwe is ‘n keerpunt in die beskerming van Suid-Afrika se lewendehawe-bedryf. Hy sê nog vyf-miljoen dosisse van drie internasionale verskaffers sal teen einde Maart in die land ontvang word:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die komende plaaslikeregeringsverkiesing sal na verwagting sterk bestry word, wat die lewenskragtigheid en volwassenheid van Suid-Afrika se konstitusionele demokrasie weerspieël. Hlabisa het die eerste vergadering van die Interministeriële Komitee oor Plaaslikeregeringsverkiesings vir vanjaar byeengeroep. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê die regering moet burgerlike en demokrasie-opvoedingsinisiatiewe verskerp om kiesersbewustheid en deelname aan die munisipale verkiesing te verbeter:
# Eskom sê sy opwekkingsvermoë toon steeds bestendige en meetbare verbetering, wat die betroubaarheid van Suid-Afrika se kragstelsel versterk en vertroue in die breër ekonomie ondersteun. Woordvoerder Daphne Mokwena sê verbeterings in die beskikbaarheid van aanlegte, en verminderde onbeplande onderbrekings, het die bestendigheid van die nasionale netwerk versterk. Sy sê hierdie deurbrake, wat deur die opwekkingsherstelplan moontlik gemaak is, dra by tot langtermyn-energiesekerheid en help om ononderbroke voorsiening te handhaaf:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap het die toltariewe aangepas wat van die eerste van volgende maand van krag is. SANRAL se woordvoerder, Vusi Mona, sê die jaarlikse toltariewe sal met 3,12-persent styg, soos hierdie maand in die staatskoerant gepubliseer. Hierdie koers is minder as verlede jaar se aanpassing van 4,85-persent. Mona het verduidelik dat tolinkomste nodig is om tolpaaie in stand te hou, te bedryf en te verbeter, asook om skuld te diens wat aangegaan is om ‘n tolpadprojekte in te stel.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy gaan die tydelike tarief op Amerikaanse invoere uit alle lande van tien- tot 15-persent verhoog. Dit is die maksimum vlak wat ingevolge die wet toegelaat word. Die stap volg nadat Trump Vrydag ‘n algemene tarief van tien-persent aangekondig het, na ‘n hofbeslissing dat die president sy gesag oorskry het, toe hy ‘n reeks hoër tariewe ingevolge ekonomiese noodwetgewing ingestel het. Handelskenners en kongrespersoneel is onseker of die Kongres die tariewe sal uitbrei. Onlangse meningsopnames het getoon al hoe meer Amerikaners blameer die heffings vir hoër pryse.
# Rugby: Die Leeus het gister hulle pad oopgeveg tot onder die Verenigde Rugbykampioenskap se top-agt. Hulle het twee geelkaarte oorkom om die Haaie in Johannesburg met 34-22 in ʼn waardevolle bonuspunt-oorwinning te klop. Die sege sal die Leeus se selfvertroue vir die res van die toernooi ʼn hupstoot gee. Die VRK keer volgende naweek vir ʼn volle ronde terug wanneer die Leeus en die Stormers mekaar op Ellispark in Johannesburg takel, terwyl die Haaie na Pretoria reis om die Bulle op Loftus te pak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….