Nuus 13:00
BULLETIN 21 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen verwerp gerugte oor sy verwydering as minister van Landbou
# FOSA eis die skorsing van regter Ledwaba hangende ‘n ondersoek
# En krieket: Die Protea en Pakistanse vroue pak mekaar môre in Bloemfontein in hul eerste eendagwedstryd
# Die uittredende DA-leier, John Steenhuisen, het gerugte verwerp dat hy as minister van Landbou verwyder gaan word. Dit volg na ‘n artikel Vrydag in die Mail & Guardian dat senior leiers binne die DA hom wil verwyder oor sy hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking. Steenhuisen het sedertdien aan News24 gesê hy is 100-persent gefokus op die stryd teen die siekte. Hy sê die partyleier bepaal wie in die uitvoerende gesag dien, nie die party se federale raad nie. Tot April is hy steeds die leier en die verandering van verteenwoordigers sal die nuwe leier se voorreg wees.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê onwettige immigrante, veral diegene wat skuldig is aan misdaad en onwettige grondbesetting, sal binnekort gedeporteer word. Die party sê die Tshwane Metropolisie en die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het ingestem om saam te werk om die probleem op te los. Grandi Theunissen van die VF Plus sê een van die grootste probleme is buitelanders wat onwettig verlate geboue in die middestad beset. Hulle verhuur dan kamers aan ander ongedokumenteerde buitelanders, wat ‘n gesondheids-, brand- en veiligheidsrisiko inhou.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die afname van 3,4-persent in die provinsie se moordsyfer vir die derde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar versigtig verwelkom. Hy sê egter die provinsiale regering eis ‘n volledige hervorming van Suid-Afrika se polisiëringstelsel en behoorlike befondsing van wetstoepassingsagentskappe in die Wes-Kaap. Winde sê georganiseerde misdaad, insluitend afpersing en vuurwapengeweld, plaas steeds geweldige druk op kwesbare woonbuurte:
# Die Forum for South Africa is bekommerd oor bewerings teen die waarnemende regterpresident van die Hooggeregshof in Pretoria, Aubrey Ledwaba. Hy word beskuldig dat hy omkoopgeld van 2,5-miljoen-rand aanvaar het om die vermeende misdaadbaas Katiso Molefe borgtog van 100-duisend rand toe te staan, asook ‘n korrupsiebeskuldiging van 35-miljoen-rand. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê as hierdie bewerings waar is, spreek dit tot die kern van die integriteit van die Suid-Afrikaanse regbank:
# Krieket: Die Proteas-vroue ontmoet Pakistan môre in Bloemfontein vir die eerste van drie eendagwedstryde. Die reeks volg op drie T20-wedstryde wat Suid-Afrika met 2-1 gewen het. Die tweede eendagwedstryd word Woensdag in Centurion gespeel, en die laaste een volgende Sondag in Durban. Die agtienjarige Fay Cowling kan haar debuut vir Suid-Afrika maak nadat sy die veteraan Marizanne Kapp vervang het wat siek is. Die spanne gebruik die witbalreeks as voorbereiding vir vanjaar se T20-Wêreldbeker in Engeland, wat op 12 Junie begin.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa tree vandag op by die herdenking van die Gewapende Magtedag in Thohoyandou, Limpopo. Die dag word jaarliks gevier ter herdenking van die sinking van die SS Mendi in Februarie 1917. Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya sê die sinking van die SS Mendi bly een van Suid-Afrika se grootste tragedies van die Eerste Wêreldoorlog. Altesaam 616 swart Suid-Afrikaanse troepe het hul lewens verloor toe die skip op pad na Frankryk gesink het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….