Nuus 11:00
BULLETIN 21 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA verwelkom die laer moordsyfer
# Minister Nzimande sê sy departement sal fokus op die verhoging van navorsingbesteding
# En die Britse regering oorweeg ‘n wet om Andrew uit die koninklike opvolglyn te verwyder
# Die Nywerheidswerkersunie van Suid-Afrika het die laer moordsyfer vir die derde kwartaal van 2025 verwelkom, in vergelyking met vorige jare. Die pesident van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê hoewel die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, versigtig optimisties is oor die jongste misdaadstatistieke, weet werkers dat die vlakke van geweldsmisdaad katastrofies hoog bly:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Blade Nzimande, sê sy departement sal fokus op die verhoging van die bruto besteding aan navorsing en ontwikkeling tot 1,5-persent van die bruto binnelandse produk teen 2030. Nzimande het die eerste ministeriële bestuursvergadering van die departement gelei. Die woordvoerder, Veli Mbele, sê die departement sal ook die koördinering en rigting van die nasionale stelsel van innovasie en die departement se ekosisteem versterk:
# Eskom het 349-duisend-964 slimmeters landwyd geïnstalleer, waarvan 126-duisend-382 op lasverminderingsvoerders ontplooi is. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê hierdie installasies bemagtig kliënte met groter sigbaarheid en beheer oor hul elektrisiteitsverbruik. Dit ondersteun ook akkurate fakturering en verbeter die algehele gebruikerservaring. Mokwena sê ongeveer 90-persent van die slimmeters wat op lasverminderingsvoerders geïnstalleer is, is in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, waar netwerkrisiko die hoogste is:
# Die MK-party het sy oproep vir onmiddellike leefstyloudits vir alle lede van die regbank en openbare bekendmaking van regterlike finansiële belange herhaal. Dit volg nadat hoofregter Mandisa Maya bevestig het die registrateur van regters se registreerbare belange kan geïnspekteer word ingevolge die Wet op die Regterlike Dienskommissie. Woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê dit bevestig dat geen arm van die staat bo ondersoek verhewe is nie. Lede van die regbank moet ook hul finansiële belange verklaar.
# Die Britse regering gaan wetgewing oorweeg om Andrew Mountbatten-Windsor uit die koninklike opvolglyn te verwyder. Hy is Donderdag in hegtenis geneem oor bewerings van wangedrag in ‘n openbare amp. Oproepe het die afgelope dae toegeneem dat die koning se broer uit die opvolglyn verwyder moet word, maar dit sal konsultasie en ooreenkoms met die ander lede van die Statebond vereis. ‘n Onlangse peiling het getoon dat 82-persent van die Britse publiek so ‘n stap sal ondersteun. Andrew is agtste in die ry vir die troonopvolging, na prins William en sy drie kinders, en prins Harry en sy twee kinders.
# En tennis: Elina Svitolina het gister haar eerste WTA 1000-finaal sedert 2018 gehaal met ‘n marathon-oorwinning oor die derde gekeurde Amerikaner Coco Gauff by die Dubai-kampioenskap. Svitolina het vroeër die maand teruggekeer na die top 10 op die wêreldranglys. Dis die eerste keer sedert 2021, en die eerste keer as ‘n ma. Jessica Pegula het vroeër op die hoofbaan haar perfekte rekord teen haar landgenoot Amanda Anisimova gehandhaaf en geseëvier om haar eerste eindstryd in Dubai te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….