Nuus 09:00
BULLETIN 21 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU verwelkom die afname in die aantal moorde in Suid-Afrika
# Soil of Africa sê geweldsmisdaad bly buite beheer
# En Donald Trump is woedend nadat die Hooggeregshof sy wêreldwye tariewe omverwerp
# COSATU het die afname in die aantal moorde, geweldsmisdade, inbrake en ander ernstige oortredings in die land verwelkom. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van 2025 vrygestel wat ‘n afname van 8,7-persent gelykstaande aan 602 minder sterftes toon. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, verwelkom die afname, maar sê Suid-Afrika se misdaadvlakke bly veels te hoog:
Die Soil of Africa-beweging sê intussen geweldsmisdaad bly buite beheer, met moorde wat in townships en sakesentrums regoor die land genormaliseer het. Die misdaadstatistieke vir die derde kwartaal vir 2025 toon dat die vlak van misdaad onaanvaarbaar hoog bly. Die voorsitter van die beweging, Bongani Ramontja, sê georganiseerde misdaadnetwerke gaan voort om met vertroue op te tree, en gewone mense leef daagliks in vrees:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging doen ‘n beroep op die regering in Noordwes om rekenskap te gee oor onbetaalde werkers en gestrande pendelaars as gevolg van die krisis by North West Transport Investment. Meer as een-duisend-500 werknemers het na bewering maande sonder betaling gegaan, terwyl duisende pendelaars baie hoër vervoerkoste moet betaal. Sonja Carstens van MISA sê die situasie het ‘n humanitêre krisis geword, met ernstige finansiële en emosionele gevolge vir werkers en hul gesinne:
# President Donald Trump het woedend gereageer op gister se uitspraak deur die Hooggeregshof dat hy nie die mag het om eensydig tariewe op invoere vas te stel nie. Hy het belowe om die wêreldhandelsoorlog voort te sit. Die hof se deurslaggewende 6-3-uitspraak het die mag omvergewerp wat Trump en sy gesante oor buitelandse regerings tydens onderhandelinge uitgeoefen het om diplomatieke betrekkinge en wêreldmarkte te hervorm. Hy het later ‘n uitvoerende bevel onderteken wat die tariewe herroep, en ‘n proklamasie uitgereik wat vir 150 dae ‘n 10-persent-tarief hef op die meeste goedere wat vir die VSA ingevoer word.
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Carlos Alcaraz, het ses wedstrydpunte nodig gehad om die verdedigende kampioen, Andrey Rublev, gister te klop en die eindstryd van die Katar Ope te haal. Alcaraz speel in sy eerste toernooi sedert hy sy loopbaan-Grand Slam by die Australiese Ope voltooi het en kom teen Arthur Fils in die eindstryd te staan. Die 21-jarige Fransman het teen die sesde gekeurde Jakub Mensik gewen, wat Jannik Sinner in die laaste agt verslaan het. Alcaraz het nou sy perfekte wenrekord vir hierdie seisoen tot 11 wedstryde uitgebrei.
# En ten slotte: Die bekroonde Suid-Afrikaanse sjef, Ollie Swart, is aangestel as die nuwe handelsmerk-ambassadeur vir SA Olive. Die vennootskap is gemik op bewusmaking en waardering van plaaslik vervaardigde suiwer olyfolie en om verbruikers aan te moedig om Suid-Afrikaanse produsente te ondersteun. SA Olive sê die veldtog is deel van hul pogings om mense op te voed oor die gehalte en veelsydigheid van plaaslike olyfolie, al behoort minder as een-persent van die wêreldmark aan Suid-Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….