Goeie Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Afrika se eerste diep ondergrondse wetenskaplaboratorium naby die Paarl, bekend as PAUL, gaan binne die volgende vyf tot tien jaar ‘n werklikheid word. Dit word ingerig in die Du Toitskloofberge in die Wes-Kaap, en sal die vasteland se eerste en die Suidelike Halfrond se tweede laboratorium van hierdie aard wees. Die gerief het ten doel om donker materie te bestudeer en unieke navorsing in verskeie velde te doen. Professor Faïrouz Malek van die Universiteit Stellenbosch sê die laboratorium se vestiging sal aansienlike voordele vir wetenskap, onderwys en die breër gemeenskap inhou:
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het in die Sobantu-gemeenskapsaal in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, ‘n multimiljoen-rand skenking van gesondheidstoerusting van die Duitse Ontwikkelingsbank ontvang. Die skenking van 500-miljoen-rand sluit in mobiele gesondheidsklinieke, gespesialiseerde entstof-yskaste, entstofhouers, temperatuur-moniteringstoestelle en inligtingstegnologie-toerusting. Die skenking is daarop gemik om die regering se pogings te ondersteun om die openbare gesondheidstelsel te verstrek.
# ‘n Wes-Kaapse gevangene, Benn Mathews Christopher, was verlede jaar se gevangene en paroolganger wat die beste presteer het met ses onderskeidings in sy matriekeksamen. Die Departement van Korrektiewe Dienste berig Christopher, van die Brandvlei Korrektiewe Sentrum naby Worcester in die Boland, se gemiddeld was 86,14-persent. Sy onderskeidings sluit in Engels Eerste Bykomende Taal, Wiskundige Geletterdheid, Toerisme en Sakestudies. Hoogpresterende gevangenes van verskeie tronke het trofeë en sertifikate ontvang tydens ‘n geleentheid by die Westville Korrektiewe Sentrum in Durban.
# Wetenskaplikes in Duitsland glo ‘n deurbraak met vrugbaarheidsnavorsing sal die kritiek bedreigde noordelike witrenoster red, waarvan slegs twee koeie op die planeet oor is. Kenners het die heel eerste in vitro-bevrugtingswangerskap behaal nadat ‘n laboratorium-geskepte embrio van ‘n suidelike witrenoster na ‘n surrogaatma oorgeplaas is. Daar word nou gehoop die prosedure kan herhaal word met die noordelike witrenoster, wat ‘n nouverwante subspesie is. BBC News berig die noordelike witrenoster is eens regoor sentraal-Afrika aangetref, maar is uitgewis weens die vraag na renosterhoring.
# En ten slotte: Byna ‘n dekade nadat hy The Daily Show verlaat het, keer Jon Stewart terug om dié Comedy Central-program een keer per week aan te bied te midde van die presidensiële verkiesingstryd wat momentum kry. Hy sal ook die uitvoerende vervaardiger van die program wees. Stewart keer terug, meer as ‘n jaar nadat die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah, wat Stewart in 2015 as gasheer opgevolg het, die program in Desember 2022 verlaat het. Kykers sal Stewart sien as gasheer op Maandae, terwyl ‘n roterende reeks komediante as anker-aanbieders sal optree van Dinsdae tot Donderdae.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….