Nuus 15:00
BULLETIN 20 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vermiste mynwerkers is vermoedelik dood ná ‘n modderstorting in die Ekapa-myn
# Shadrack Sibiya gee toe veranderings in die taakspan vir politieke moorde kon ontwrigtend wees
# En sokker: ‘n Uitstekende begin vir Nottingham Forest se nuwe afrigter in die Europese Liga
# Die minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, sê vyf mynwerkers wat vroeër die week vasgekeer is ná ‘n modderstorting in die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap, is vermoedelik dood. Reddingspogings duur voort, maar sal na verwagting langer neem weens water- en boorprobleme. Mantashe sal die gesinne toespreek en beskryf die voorval as ‘n moontlike ramp. Hy sê ‘n rekord 41 sterftes is verlede jaar in die mynbedryf aangeteken:
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, is voor die Madlanga-kommissie ondervra oor beweerde politieke inmenging na die hertoewysing van agt lede van die taakspan vir politieke moorde. Hy het toegegee die vervanging van ondersoekbeamptes verg tyd vir nuwe speurders om hulself vertroud te maak met die sake. Sibiya het erken dat sulke veranderings ontwrigtend kan wees vir ondersoeke, maar volgehou dat hertoewysings standaard-gebruik is weens oorplasings binne die diens:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika beoog om kweekhuisgas-uitstralings te verminder en aan te pas by klimaatsuitwerkings. Hy het op die Presidensiële Klimaatkommissie se spesiale sitting gevra vir ‘n regverdige oorgang na ‘n lae-koolstof ekonomie, veerkragtigheid en mededingendheid. Ramaphosa bepleit die vermindering van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Hy het die kommissie versoek om raad te verskaf aan onafhanklike belanghebbendes en die land deur ingewikkelde klimaatsbeleide te lei:
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne kan vanjaar militêre goedere en dienste ter waarde van miljarde rand uitvoer nadat die eerste buitelandse verkope in oorlogstyd gemagtig is. Davyd Aloian van die Nasionale Veiligheids- en Verdedigingsraad het aan Reuters gesê hulle het die meerderheid van 40 aansoeke van vervaardigers goedgekeur vir die uitvoer van militêre goedere en dienste. Oekraïne het wapenuitvoere gestaak ná Rusland se inval in Februarie 2022 en hulpbronne gebruik vir die ontwikkeling van sy wapenbedryf. Die land het die afgelope jare ‘n verdedigingstegnologie-oplewing beleef deur sy uitgebreide gevegs-ervaring in te span.
# Sokker: Nottingham Forest se nuwe afrigter, Vitor Pereira, sê hy het sy spelers aangemoedig om hulself uit te druk, wat gelei het tot die oorwinning van 3-0 oor Fenerbahce in die eerste van hul Europese Liga-uitspeelwedstryde. Dit was ‘n droombegin vir Pereira na hy Forest se vierde afrigter van die seisoen geword het toe hy ‘n kontrak van 18-maande gesluit het. Hy het onmiddellik welslae behaal toe die sukkelende Premierliga-span ‘n indrukwekkende oorwinning in Istanboel behaal het danksy doele deur Murillo, Igor Jesus en Morgan Gibbs-White.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-816-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-30-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….