Nuus 13:00
BULLETIN 20 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal se polisiekommissaris doen aansoek om ‘n interdik teen die sakeman Calvin Mathibeli weens bewerings op sosiale media
# Studente aan Wits eis die registrasie van alle studente ongeag agterstallige skuld
# En kanovaart: Die verdedigende kampioene spring voor weg op dag twee van die 75ste Dusi-marathon
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het ‘n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Durban ingedien vir ‘n interdik teen die sakeman Calvin Mathibeli waarin hy vra aantygings van korrupsie en onregmatige gedrag teen hom moet tot vals en lasterlik verklaar word. Dit behels Mathibeli se plasing op sosiale media ná ‘n polisie-klopjag wat verbind word met Calvin Security. Mathibeli het ‘n stryd van sewe jaar met die provinsiale polisie uiteengesit en Mkhwanazi ‘n skelm polisiebeampte genoem wat beskermingsfooie van taxi-eienaars aanvaar. Die saak word Dinsdag aangehoor.
# Forum for South Africa vra ‘n ondersoek na die buitensporige styging in vleispryse. Data van Statistieke Suid-Afrika wys die jaarlikse styging van vleispryse het van Desember tot nou van 12,6- tot 13,5-persent gestyg met drie beesvleisprodukte wat die hoogste jaarlikse styging van al 391 produkte in die verbruikersaanwyser-mandjie behaal het. FOSA se voorsitter, Tebogo Mashilompane, sê vleis raak onbekostigbaar vir werkersklas-huishoudings:
# Studente van die Universiteit van die Witwatersrand sê hulle sal aanhou betoog vir die onmiddelllike registrasie van alle studente ongeag agterstallige skuld. Die studenteraad sê minstens 20-duisend studente het nog nie geregistreer nie en dit sluit in nege-duisend wat verlede jaar finansieel uitgesluit is. Wits se studenteskuld beloop sowat 1,5-miljard-rand. Die studenteraad sê dis onaanvaarbaar dat studente finansieel uitgesluit word van studies. Wits het onderneem om met die studenteraad saam te werk om probleme in verband met registrasie, studentebefondsing en ander sake op te los.
# Kanovaart: Die verdedigende kampioene, Andy Birkett en Matt Fenn, het voor weggespring op die tweede dag van die Dusi-marathon in KwaZulu-Natal. Hulle het die eerste skof gewen ná ‘n taktiese stryd met Sbonelo Khwela en Msawenkosi Mtolo, waarin hule slegs 23-sekondes voor hulle geëindig het. Abby Solms en Robyn Groenink het die eerste skof in die vrouekategorie gewen. Die uitmergelende wedvaart oor drie dae het begin by die Bishopstowe Hall- buiteklub in Pietermartizburg en eindig môre by Blue Lagoon in Durban.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-106-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-40-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-17-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Gesondheidsdepartement is bekommerd oor die groeiende vetsugkrisis in die provinsie, wat gepaardgaan met ‘n toename in nie-oordraagbare siektes soos diabetes, hoë bloeddruk, beroertes en hartsiektes. Die provinsie het die afgelope 12-maande meer as 67-duisend nuwe gevalle van hoë bloeddruk aangeteken. LUR Nomantu Nkomo-Ralehoko sê inwoners se gesondheid en welstand is belangrik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….