Nuus 09:00
BULLETIN 20 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika is weer Afrika se grootste ekonomie
# TLU SA eis werklike resultate van die 2026-begroting, nie net beloftes nie
# En Andrew Mountbatten-Windsor word vrygelaat na 11 uur in polisie-aanhouding
# Die ANC verwelkom die Internasionale Monetêre Fonds se jongste verslag dat Suid-Afrika weer sy plek as Afrika se grootste ekonomie beklee in terme van nominale bruto binnelandse produk vir 2025. Hersiene skattings plaas die land voor Egipte en Nigerië. Die ANC sê dit bevestig die ekonomie se veerkragtigheid en dat die beleidsrigting onder president Cyril Ramaphosa reg is. Hy sê die regering het deur die handhawing van fiskale dissipline en ‘n afname in begrotingstekorte tot die bevordering van energiehervorming doelbewus opgetree om sekerheid en groei te herstel.
# Die landbou-organisasie TLU SA het ‘n versoek gerig aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om vanjaar se begrotingsbeloftes in meetbare uitkomste te omskep. Die organisasie waarsku dat sonder sterker wetstoepassing en verbeterde staatskapasiteit, ekonomiese herstel en werkskepping slegs op papier sal bly. Bennie van Zyl van die organisasie waarsku ook dat belastingbetalers nie verdere finansiële skokke kan absorbeer nie en doen ‘n beroep op behoorlike toesig, verantwoordbaarheid en doeltreffende gebruik van openbare fondse:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy is bekommerd oor die waterkrisis in die Stad Johannesburg en die metro se voortslepende versuim om agterstallige munisipale skuld in te vorder. Onbetaalde munisipale rekeninge in Johannesburg beloop tans 71-miljard-rand. ʼn Aansienlike deel hiervan is in gebiede soos Soweto, waar die maandelikse invorderingskoers tussen 40- en 50-persent wissel. Franco de Lange van die VF Plus sê daarenteen is die maandelikse invorderingskoers in die noordelike en westelike woonbuurte altyd bo 90-persent:
# Andrew Mountbatten-Windsor is gisteraand uit polisie-aanhouding vrygelaat nadat hy in hegtenis geneem is weens vermoedelike wangedrag in ‘n openbare posisie volgens inligting uit die Jeffrey Epstein-lêers. Die Amerikaanse Departement van Justisie het e-posse van die pedofiel-finansier vrygestel wat daarop dui Mountbatten-Windsor het verslae oor amptelike besoeke aan Hong Kong, Viëtnam en Singapoer toe hy die Britse handelsgesant was, gedeel. Hy het enige oortreding wat met Epstein verband hou ontken. Die regsverteenwoordiger vir Epstein se slagoffers, Lisa Bloom, het aan Sky News gesê die arrestasie word verwelkom:
# Paralimpiese Spele: Oekraïne se span by die Paralimpiese Winterspele gaan die geleentheid se openingseremonie volgende maand in Italië boikot. Dit volg nadat die Internasionale Paralimpiese Komitee besluit het om ses Russiese atlete en vier van Belarus toe te laat om onder hulle landsvlae deel te neem. Oekraïnse beamptes het reeds aangedui dat hulle die hele kompetisie gaan boikot. Dié land se Nasionale Paralimpiese Komitee beskryf die internasionale komitee se besluit as skandelik en sê dis heeltemal strydig met die Spele se beginsels.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-184-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-991-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….