Nuus 08:00
BULLETIN 20 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF sê Suid-Afrika het merkwaardige ekonomiese veerkragtigheid getoon
# Die EFF vra vir die stigting van ‘n Toesigkomitee oor die Presidensie
# En die Bloeddiens stel ‘n nasionale veldtog bekend om die bloedvoorraad voor Paasfees aan te vul
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika het in 2025 merkwaardige ekonomiese veerkragtigheid getoon te midde van wêreldwye ekonomiese probleme, en makro-ekonomiese bestendigheid gehandhaaf en inflasie beheer. Hy sê die land se nuwe inflasieteiken van drie-persent is ‘n belangrike beleidsmylpaal. Die IMF sê verstandige fiskale beleid wat staatskuld verminder sonder om groei te belemmer, is belangrik om die ekonomie bestendig en veerkragtig te hou. Hy sê ʼn duidelike fiskale reël wat op ʼn versigtige skuldteiken gebaseer is, kan dissipline aanmoedig en vertroue in beleid bou.
# Die EFF het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, versoek om die volledige stigting van die oorsigkomitee oor die presidensie te versnel. Die Parlement het verlede jaar toestemming gegee vir die stigting van die komitee, wat vir die eerste keer ‘n spesifieke reëlgebonde struktuur sal hê om ‘n oog op die presidensie se optrede en begroting te hou. Natasha Ntlangwini van die EFF sê die komitee is belangrik om te verseker die presidensie tree nie buite die grense van parlementêre regulasies op nie:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens het ‘n nasionale veldtog van stapel gestuur wat Suid-Afrikaners aanspoor om bloed te skenk nadat voorrade tydens die feestyd gedaal het. Die “Answer the Call”-veldtog is daarop gemik om bloedvoorrade te herbou voor die besige Paastydperk. Die bloeddiens sê een skenking kan tot drie lewens red, en moedig geskikte skenkers aan om skenkingsentrums te besoek en te help verseker dat hospitale genoeg bloed het vir noodgevalle en mediese behandelings.
# President Donald Trump van Amerika het sy dreigemente teen Iran herhaal en sê Teheran het ongeveer tien dae tyd om ʼn ooreenkoms met Washington te sluit, of nog militêre optrede te verwag. Amerika het die afgelope dae sy militêre mag in die Midde-Ooste uitgebrei en volgens berigte kan ʼn aanval reeds die naweek plaasvind. Trump het by die eerste vergadering van sy Vredesraad gesê indien Iran nie ʼn ooreenkoms oor sy kernprogram aangaan nie, sal verdere stappe volg:
# Tennis: Die 20-jarige Jakub Mensik van Tsjeggië het die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, in die Katar Ope se kwarteindronde geklop. Mensik het Sinner in Doha verslaan om die grootste sege van sy loopbaan, wat die ranglys betref, te behaal. In die halfeindronde takel hy die ongekeurde Fransman, Arthur Fils, wat Mensik se landgenoot, Jiri Lehecka, afgeransel het. Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het met die Rus, Karen Khachanov, afgereken. Die Spanjaard kom teen die verdedigende kampioen, Andrey Rublev van Rusland te staan, wat die Griek, Stefanos Tsitsipas, verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-377-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-996-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….