Nuus 17:00
BULLETIN 19 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA verwelkom die daling in die verbruikersprysinflasie
# Die pluimvee-bedryf eis antwoorde oor vertraging met voëlgriep-inenting
# En, ActionSA verwelkom Tshwane se loonooreenkoms met munisipale werknemers
# Die vakbond GIWUSA verwlkom die onlangse effense daling in die verbruikersprysindeks, van 3,6-persent in Desember tot 3,5-persent in Januarie. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê ná jare van meedoënlose verhogings wat lone wegkalwe, is enige verlangsaming in prysstygings ‘n ware verligting. Hy sê ‘n laer inflasiekoers beteken egter nie die lewenskostekrisis is verby nie:
# Suid-Afrikaanse pluimvee-produsente vra die minister van Landbou, John Steenhuisen, om die vertraging met voëlgriep-inentings te verduidelik. Hulle sê staat-steun vir inenting bly beperk en duur terwyl beesboere vinniger goedkeuring, befondsing en hulp deur staatsveeartsenydienste kry vir bek-en-klouseer. Die Gautengse eierprodusent Stephan Botha sê nuwe voëlgriep-uitbrekings in die winter kan voedselsekerheid en landelike werksgeleenthede bedreig as daar nie dringend opgetree word nie.
# ActionSA het die koalisieregering in Tshwane geprys nadat die voortgesette 3,5-persent-loongeskil uiteindelik opgelos is. Meer as 21-duisend munisipale werknemers, wat lede van die munisipale vakbonde SAMWU en IMATU is, is geraak. ActionSA se nasionale woordvoerder, Michael Beaumont, sê die gestruktureerde skikking, wat agterstallige aanspreeklikheid tot minder as 1,1-miljard-rand verminder, stel laer-inkomste werkers eerste terwyl die Stad se finansies beskerm word. Hy sê gedissiplineerde bestuur, dialoog en leierskap het verseker die Stad se Aanpassingsbegroting bly ten volle befonds:
# Die Amerikaanse president Donald Trump lei vandag die eerste vergadering van sy Raad van Vrede, met verteenwoordigers van meer as 45 lande wat verwag word. Van die belangrikste vrae wat waarskynlik bespreek sal word, is die ontwapening van Hamas-militante, die grootte van die heropboufonds en die vloei van humanitêre hulp na Gaza. Die raad sluit Israeliese verteenwoordigers in, maar geen Palestyne nie. Trump se voorstel dat die Raad uiteindelik uitdagings buite Gaza kan aanspreek, het kommer laat ontstaan dat die liggaam die Verenigde Nasies se rol in globale diplomasie en konflikoplossing kan ondermyn.
# Krieket: Mede-gashere Indië glo hulle kan die perfekte wedstryd speel in Sondag se T20 Wêreldbeker Super Agt-kragmeting teen Suid-Afrika in Ahmedabad. Beide spanne het die groepfase onoorwonne afgesluit, maar Indië se vertonings was nie altyd oortuigend nie. Hulpafrigter Ryan ten Doeschate sê hy glo die span sal op die regte tyd hul hoogtepunt bereik. Indië speel ook teen Zimbabwe en die Wes-Indiese Eilande in hulle Super Agt-groep, terwyl Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka en Engeland in die ander groep meeding. Die top twee in elke groep kwalifiseer vir die halfeindrondte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-249-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-981-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….