Nuus 16:00
BULLETIN 10 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Skietvoorval is aangemeld by Mugabe se seun se huis in Hydepark
# Malusi Gigaba word regshulp geweier in die Transnet-korrupsiesaak
# En motorsport: Lewis Hamilton is tevrede met sy nuwe Ferrari ná ‘n toetslopie
# ‘n Skietery is aangemeld by die voormalige Zimbabwiese president, Robert Mugabe, se seun, Bellarmine Mugabe, se huis in Hydepark, Johannesburg. Berigte dui aan ‘n werknemer van die gesin is ná ‘n geskil geskiet en is tans in ‘n bedenklike toestand. Mediese personeel behandel die slagoffer en die polisie bly op die toneel om die voorval te ondersoek.
# Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, is regshulp geweier toe sy Transnet-korrupsieverhoor amptelik op die rol geplaas is vir voorverhoor in die Hooggeregshof in Johannesburg op 8 Mei. Hy en sy medebeskuldigdes, Anoj Singh, Siyabonga Gama, Thamsanqa Jiyane en Brian Molefe, het vandag verskyn. Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se woordvoerder, Henry Mamothame, het teenoor SABC News bevestig die verhoor sal voortgaan met uitgebreide data-openbaarmakings:
# Die DA in Limpopo sê duidelike kommunikasie met boere en vinniger optrede is noodsaaklik om die bek-en-klouseer-uitbreking te bekamp. Die party het die provinsiale Departement van Landbou gevra om koördinering te verbeter, die tekort aan veeartse op te los en die uitrol van entstowwe te bespoedig. Marie Helm van die DA sê boere benodig duidelike leiding oor veebewegings-permitte en toegang tot veeartsenykundige ondersteuning om die verdere verspreiding van die siekte te voorkom.
# Motorsport: Lewis Hamilton sê sy DNS is in Ferrari se nuwe Formule Een-motor. Die sewemalige wêreldkampioen het toetsrondes met die renmotor afgelê tydens die tweede voorseisoen-toets in Bahrein. Hy was sewende vinnigste en het 44 rondes gejaag. Hamilton sê hy kon die afgelope tien maande deel wees van die motor se ontwikkeling op die nabootser, en voeg by dat hy die nuwe seisoen met ‘n positiewe ingesteldheid betree. Die F1-seisoen begin die agtste van volgende maand in Melbourne.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-606-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-988-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die Palestynse diplomaat Leila Shahid, wat in die ouderdom van 76 gesterf het. Sy was die eerste vroulike ambassadeur van Palestina. Shahid het nou saamgewerk met die politieke leier Yasser Arafat, en dekades lank geveg vir Palestynse vryheid en staatskap. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê haar leierskap en visie vir ‘n vrye Palestina sal steeds wêreldwye solidariteit aanspoor:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….