Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die oorblywende groepswedstryde van die T20-Wêreldbekertoernooi het geen invloed op die Super Agts-fase nie. Die Wes-Indiese Eilande en Italië het vandag se aksie in Kolkata geopen, met die Windies reeds deur na die volgende ronde. Sri Lanka en Zimbabwe, wat albei gekwalifiseer het, speel later in Colombo, gevolg deur Afganistan en Kanada in Chennai. Albei is reeds uitgeskakel. Die spanne in môre se laaste groepswedstryd, Australië en Oman, is ook reeds uit. Die Super Agts begin Saterdag, met Suid-Afrika wat Sondag teen die mede-gasheer, Indië, speel.
Australië keer intussen terug na die tekenbord na hul vroeë uitskakeling uit die toernooi. 2021 se kampioen het twee van hul eerste drie groepwedstryde verloor en kwalifiseer nie vir die Super Agt-fase nie. Australië se probleme word glo toegeskryf aan die gebrek aan opvolgers vir hul ouer-wordende supersterre wat aan die einde van hul loopbane is. Die land se Wêreldbeker-probleme kan ‘n invloed op hul posisie op die wêreldranglys hê, en beteken dat Australië nie vir die Olimpiese Spele van 2028 in Los Angeles kwalifiseer nie.
# Rugby: Die Springbok-legende JP Pietersen is aangestel as die Haaie se permanente hoofafrigter ná sy suksesvolle termyn as tussentydse breier. Die Durbanse span het vyf uit sewe wedstryde gewen sedert hy in November by John Plumtree oorgeneem het. Griekwas se voormalige afrigter, Scott Mathie, sal volgende seisoen by Pietersen aansluit as die span se nuwe aanvalsafrigter. Die vorige aanvalsafrigter, Dave Williams, is nou hoofbestuurder en die voormalige direkteur van rugby, Neil Powell, is die nuwe hoof van junior rugby.
Frankryk se kaptein, Antoine Dupont, is intussen midde-in ‘n storm oor die oortreding van ‘n salarisplafon. Hy en sy spanmaat van Toulouse, Anthony Jelonch, word genoem in ‘n berig in die sportkoerant L’Equipe oor verdagte betalings wat hulle glo ontvang het om te help voorkom dat die span salarisplafon-regulasies oortree. Die maatskappy 3S-Alyzia het Dupont glo sedert 2017 byna 29-miljoen-rand betaal en Jelonch 3,2-miljoen-rand vir beeldregte en promosies, maar die koerant kon nie enige betekenisvolle bewyse opspoor dat die maatskappy hulle vir daardie doel gebruik het nie.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is deur na die kwarteindronde van die Katarse Ope in Doha. Die Spanjaard het die Fransman Valentin Royer geklop en speel volgende teen die Rus Karen Khachanov. Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner van Italië, het die Australiër Alexei Popyrin verslaan om die kwarteindronde te haal. Die verdedigende kampioen, Andrey Rublev van Rusland, het maklik met die Hongaar Fabian Marozsan afgereken. Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die Rus Daniil Medvedev geklop om deur te dring na sy eerste toervlak-kwarteindronde in tien maande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….