Nuus 12:00
BULLETIN 19 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskeie mense is vermoedelik dood of beseer in ‘n busongeluk in Limpopo
# Die GOOD-party is vol hoop dat Joshlin Smith eendag gevind sal word
# En krieket: Die oorblywende T20-Wêreldbeker-groepswedstryde het geen invloed op die Super Agts nie
# Limpopo se Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid sê daar is vermoedelik verskeie mense dood of beseer in ‘n busongeluk op die N1 buite Makhado. Passasiers is steeds vasgekeer. Woordvoerder Tshifhiwa Dali sê die bestuurder het beheer verloor en die voertuig het in ‘n sloot beland. Hy sê die bus was van Gauteng onderweg na Zimbabwe, maar daar is nog nie vasgestel of al die passasiers op pad was Zimbabwe nie:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap hoop Joshlin Smith sal eendag gevind word. Die meisie was ses toe sy in Februarie 2024 uit haar ouerhuis in Saldanhabaai verdwyn het. Haar ma en twee mans is skuldig bevind aan mensehandel en ontvoering. Woordvoerder Ricardo van der Merwe sê hulle het niks gedoen om haar te help opspoor nie en hul voortgesette stilswye dra by tot die familie se diepe hartseer:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die regering doen alles moontlik om die groep Suid-Afrikaners terug te bring wat onder vals voorwendsels na Rusland gelok is. Vier van die 17 mans wat gelok is om in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne te veg, het gister op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng aangeland. Lamola het aan die SABC gesê dit was ‘n moeilike proses:
# Microsoft se medestigter, Bill Gates, het hom onttrek as hoofspreker op die AI Impact-beraad in Indië terwyl hy steeds onder skoot is weens sy bande met Jeffrey Epstein. Die oorlede veroordeelde Amerikaanse seksoortreder beweer in die jongste vrygestelde Epstein-lêers dat hy seksuele ontmoetings vir Gates gereël en hom gehelp het om medikasie te bekom om ‘n seksueel-oordraagbare besmetting vir sy vrou weg te steek. Gates het die bewerings ontken. Die Gates-stigting sê hulle wil verseker dat die fokus op die spitsberaad se belangrikste sake bly.
# Krieket: Die oorblywende groepswedstryde van die T20-Wêreldbekertoernooi het geen invloed op die Super Agts-fase nie. Die Wes-Indiese Eilande en Italië het vandag se aksie in Kolkata geopen, met die Windies reeds deur na die volgende ronde. Sri Lanka en Zimbabwe, wat albei gekwalifiseer het, speel later in Colombo, gevolg deur Afganistan en Kanada in Chennai. Albei is reeds uitgeskakel. Die spanne in môre se laaste groepswedstryd, Australië en Oman, is ook reeds uit. Die Super Agts begin Saterdag, met Suid-Afrika wat Sondag teen die mede-gasheer, Indië, speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-65-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-11-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….