Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Glencore se opbrengs wat die afgelope vyf jaar aan aandeelhouers betaal is, oorskry 432-miljard-rand. Die koerant skryf grondtransaksies met Gecamines sal die maatskappy in staat stel om die lewensduur van sy bedrywighede tot in die 2040’s te verleng.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die EFF het in sy repliek op president Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê hy vaar selfs swakker as oudpresident Jacob Zuma. Die party het verwys na jeugwerkloosheid wat steeds meer as 50-persent is.
Dan skryf die webblad vier van die sogenaamde huursoldate wat onder valse voorwendsels by die Russiese oorlog in Oekraïne betrokke geraak het, is veilig terug in Suid-Afrika.
En laastens is daar nuus oor die afsterwe van die toekomskundige, Clem Sunter, op die ouderdom van 81.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oor die getuienis van die geskorste adjunkpolisiekommissaris luitenant-generaal Shadrack Sibiya voor die Madlanga-kommissie. Sibiya het ontken dat hy enige polisiedossiere in sy kantoor gehou het. Hy sê hy het nie eens ‘n kluis in sy kantoor nie.
En tweedens berig die koerant die inwoners van die Gugulethu-nedersetting by Springs aan die Oos-Rand sê hulle gaan nie gekeer word om goud te prospekteer nie, want dis hul enigste bron van inkomste.
# Sowetan:
Berig oor die krisis in die Ekurhuleni-metroraad nadat die EFF aan die koalisieregering onttrek het omdat twee van hulle burgemeesterskomiteelede uitgesluit is. Kenners meen dit kan die regering in die metro in duie laat stort en verdere dienslewering opskort.
# En The Citizen:
Skryf dit sal nagenoeg 1,5-duisend-miljard-rand kos om Suid-Afrika se gebroke infrastruktuur te herstel. Volgens die DA sal dit ‘n kwart van die bedrag kos indien korrupsie uit die weg geruim word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig AfriForum het onder andere president Ramaphosa gedagvaar oor die grondwetlikheid van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Die dagvaarding sluit in die beperking van provinsiale regerings se grondwetlike magte, die reg van pasiënte om ‘n vrye keuse uit te oefen en die ekonomiese onwerkbaarheid van die NGV.
Tweedens skryf die koerant ‘n tak van Capitec in KwaDukuza, KwaZulu-Natal moes tydelik gesluit word nadat ‘n familie besluit het om ‘n oorledene self bank toe te vat om te bewys dat hy dood is.
En laastens is daar nuus oor ‘n oupa van KwaZulu-Natal wat meer as 12-miljoen-rand met ‘n twintig-rand Lotto-kaartjie gewen het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die afgelope week se wisselende kraglewering in Walmer wat tot ernstige skade aan toestelle gelei het, het inwoners die strate laat invaar om te betoog.
En tweedens skryf die koerant die 42-jarige Natasja Slabbert, ‘n salarisklerk by Isuzu, het in die hof verskyn vir die beweerde diefstal van 10,5-miljoen-rand.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Stad Pietermaritzburg gaan gebuk onder ‘n ernstige water- en kragkrisis en dit sal sowat 89,9-miljard-rand kos om slegs die waterinfrastruktuur oor die volgende dekade in stand te hou. Die krisis het selfs ‘n uitwerking op regspleging in die stad.
En tweedens word berig alles is gereed vir die Dusi-kanomarathon wat van vandag af plaasvind.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig as deel van die hervorming van die staat se mediese fonds, Psemas, sal daar van staatsamptenare vereis word om aangewese staatshospitale te gebruik.
En tweedens skryf die koerant daar is ernstige vrae oor die bedrae geld wat aan onderwys bestee word en die waarde wat daaruit verkry word.