Nuus 06:00
BULLETIN 19 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste groep Suid-Afrikaanse mans wat onder valse voorwendsels na Rusland gelok is, is terug by die huis
# Melk SA verseker die publiek dat suiwelprodukte veilig is
# En Pous Leo sal nie by Donald Trump se Vredesraad aansluit nie
# Vier van die 17 Suid-Afrikaanse mans wat in die Rusland-Oekraïne-oorlog vasgevang was, het gistermiddag by OR Tambo Internasionale Lughawe geland. Die mans het hulself in Oekraïne se oorloggeteisterde Donbas-streek bevind nadat hulle na bewering verlede Julie onder valse voorwendsels na Rusland gelok is, glo deur MK-partyleier Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla. Sy het na bewering ‘n rol gespeel in die organisering van hul reis en werwing. Sy het ontken dat hulle betrokke was. Die res van die groep is blykbaar in Donetsk, Oekraïne en wag vir hulp om na Suid-Afrika teruggestuur te word.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het die DA se rol in die regering van nasionale eenheid verdedig ten spyte van onderbrekings deur MK-partylede. Gwarube het tydens die tweede dag van die debat oor die staatsrede gesê die DA se deelname weerspieël sy verbintenis tot bestendigheid, groei en dienslewering. Sy het ook die regering se verbintenis tot die versterking van onderwys herbevestig, insluitend ‘n belegging van tien-miljard-rand in vroeë-kinderjareontwikkeling en voortgesette ondersteuning vir skoolvoedingsprogramme:
# Die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya, ontken hy het opdrag gegee dat die taakspan vir politieke moorde se 121 dossiere na die polisiehoofkantoor in Pretoria verskuif moet word. Sibiya het ook dokumente voorgelê om sy weergawe te staaf. Hy het aan die Madlanga-kommissie van ondersoek gesê hy het nooit enige opdrag gegee om die sensitiewe saaklêers uit KwaZulu-Natal te onttrek nie, en dit ook nooit in sy kantoor gehou het nie:
# Melk Suid-Afrika het verbruikers verseker suiwelprodukte bly veilig ten spyte van die bek-en-klouseer-uitbreking. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa die siekte as ‘n nasionale krisis verklaar het. Die uitvoerende hoof van Melk SA, Nico Fouché, sê terwyl bek-en-klouseer beeste en ander gespletehoef-diere affekteer, is mense nie vatbaar vir die virus nie. Hy beklemtoon gepasteuriseerde en langlewe-melk, jogurt, maas, kaas en botter is veilig vir verbruik en hou geen gesondheidsrisiko vir die publiek in nie.
# Die Vatikaan het bevestig dat Pous Leo nie sal deelneem aan president Donald Trump se Vredesraad nie. Hy is verlede maand genooi om aan te sluit. Die raad, wat onbepaald onder Trump se leiding sal val, is oorspronklik ontwerp om toesig te hou oor die heropbou van Gaza. Die doelwit is egter sedertdien uitgebrei om ‘n wêreldwye vredesbewaringsliggaam te word. Die Vatikaan se staatsekretaris, kardinaal Pietro Parolin, sê die Vatikaan het ‘n unieke internasionale rol en is bekommerd oor optrede buite die raamwerk van die Verenigde Nasies. Hy sê pogings om krisisse te hanteer moet deur die VN bestuur word.
# Paralimpiese Spele: Die Oekraïnse minister van Sport, Matvii Bidnyi, het die Internasionale Paralimpiese Komitee veroordeel omdat hulle ses Russiese atlete en vier uit Belarus toelaat om onder hul lande se vlae aan volgende maand se Winterspele in Italië deel te neem. Die atlete het in September weer volle lidmaatskap gekry nadat hul lande verban is toe Rusland vier jaar gelede, Oekraïne ingeval het met Belarus se hulp. Bidnyi sê die organiseerders laat moordenaars en hul medepligtiges toe om deel te neem en noem dit teleurstellend en skandalig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-382-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-976-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….