Nuus 15:00
BULLETIN 18 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum beteken ‘n dagvaarding oor die grondwetlikheid van die NGV-wet
# Shadrack Sibiya getuig voor die Madlanga-kommissie dat die MK-party hom in die openbaar verneder het
# En krieket: Australië se T20 Wêreldbeker-veldtog word as chaoties beskryf
# AfriForum het ‘n dagvaarding op president Cyril Ramaphosa en die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, laat beteken om die grondwetlikheid van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te betwis. Woordvoerder Louis Boshoff het in Kemptonpark, Gauteng, aangevoer die wet beperk provinsiale magte, pasiënte se keuse en kliniese onafhanklikheid. Hy beklemtoon die NGV-raamwerk is nie ekonomies werkbaar nie en wil die wet ongeldig laat verklaar en terugverwys na die Parlement vir heroorweging:
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy is in die openbaar verneder toe die MK-party ‘n strafregtelike saak teen hom ingedien het. Hy sê hy is gedwing om verantwoording te doen voor die Parlement se ad hoc-komitee wat MK-lede ingesluit het, ondanks hul klagte teen hom. Sibiya beweer hy is blootgestel aan aanhoudende aanvalle en vernederende vrae, en sê die proses het sy waardigheid ondermyn:
# Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het gelas oudpremier Ace Magashule se voormalige assistent, Moroadi Cholota, kan verhoor word. Haar spesiale pleidooi om uitgesluit te word van die korrupsiesaak van 255-miljoen-rand oor die verwydering van asbesdakke is geweier. Regter Phillip Loubser sê die beslissing baan die weg vir verrigtinge teen Cholota in verband met die hoëprofiel-korrupsiesaak, wat aansienlik aandag getrek het in die provinsie sowel as landwyd:
# Die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Energie en Water verwelkom die Europese Unie se belegging van 38,2-miljoen-rand vir die versterking van vaardighede in Suid-Afrika se kritieke minerale en battery-ekonomie. Die befondsing ingevolge die EU se Global Gateway-program word gelei deur die Wetenskaplike- en Nywerheidsnavorsingsraad. Dit sal ambagsopleiding in ooreenstemming met nywerheidsaanvraag bring. Die waarnemende uitvoerende hoof, Robyn Vilakazi, sê nywerheidsgroei is afhanklik van ‘n arbeidsmag wat werksgereed is. Die projek steun billike oordrag en gee wyer toegang vir die jeug tot volhoubare werksgeleenthede in die groen-ekonomie.
# Krieket: Australië se T20 Wêreldbeker-veldtog is as chaoties beskryf nadat 2021 se kampioen in die groepfase uitgeskakel is. Hulle kon slegs een van hul eerste drie groepwedstryde wen, met Sri Lanka en Zimbabwe wat van Groep B deurgedring het. Australië is belemmer deur die afwesigheid van die veteraanboulers Josh Hazlewood, Pat Cummins en Mitchell Starc, terwyl kaptein Mitchell Marsh ook die eerste twee wedstryde misgeloop het. The Australian beskryf hul snelboul-aanval as ‘n skadu van vorige glorie en kritiseer ook die keurders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-400-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-915-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….