Nuus 13:00
BULLETIN 18 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Geregtigheid ontwyk steeds die Ndlovu en Mdhluli gesinne nadat ‘n hof die saak 14 keer uitstel
# Brandstofpryse gaan waarskynlik styg in Maart
# En krieket: ‘n Maklike oorwinning vir die Proteas oor die Verenigde Arabiese Emirate in Delhi
# Gesinne wag steeds op geregtigheid ‘n jaar ná die wrede moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli, in Mpumalanga. Hul oorskot is in Mei in Limpopo gevind nadat hulle in Februarie verdwyn het. Die saak is reeds 14 keer uitgestel in die Landdroshof in KwaMhlanga, Mpumalanga. Palesa Magolego van die Afrika-media-en-kommunikasieforum sê hierdie vertragings vererger die gesinne se pyn:
# Suid-Afrikaanse motoriste moet hulle gereed maak vir hoër brandstofpryse in Maart. Volgens die Sentrale Energiefonds se jongste data kan die petrolprys met een-sent per liter styg vir 93 oktaan en twee-sent vir 95 oktaan. Dieselpryse kan egter met tot 47-sent per liter klim. Die fonds skryf die styging toe aan hoër internasionale produkpryse, met Brent-ru-olie wat bo 67-dollar per vat verhandel. Die nuwe pryse word op 4 Maart van krag.
# ActionSA sê hy distansieer hom absoluut van Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, se verklaring oor veranderings aan sy burgemeesterskomitee. Die herskommeling beteken ActionSA se burgemeesterskandidaat, Xolani Khumalo, word aangestel as lid vir Gemeenskapsdienste en Verordeningstoepassing. Michael Beaumont van ActionSA sê die party sal nie geloofwaardigheid verleen aan ‘n administrasie wat wetteloosheid en agteruitgang toegelaat het nie:
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se spesiale gesant, Steve Witkoff, sê betekenisvolle vordering is gemaak op die jongste ronde vredesgesprekke tussen Oekraïne en Rusland in Genève, Switserland. Besprekings fokus hoofsaaklik op grondgebied terwyl die Kremlin steeds eis Kiëf moet die oorblywende 20-persent van Donetsk se oostelike streek afstaan wat Moskou nie kon verower nie. Oekraïne weier. Witkoff sê hy is trots om onder president Donald Trump se leierskap te werk om die bloedvergieting in hierdie afgryslike konflik te stop.
# Krieket: Suid-Afrika het die Verenigde Arabiese Emirate maklik verslaan met ses paaltjies in hulle T20-Wêreldbeker-groepswedstryd in Delhi. Dewald Brevis het 36 bygedra en die Proteas het die lae teiken van 123 binne 14 boulbeurte bereik. Die V-A-E is vroeër tot 122 vir ses beperk. Alishan Sharafu se 45 was die hoogste telling. Corbin Bosch het drie paaltjies geneem en slegs 16 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan. Die onoorwonne Suid-Afrika was reeds voor die wedstryd deur na die Super Agts en speel Sondag in Ahmedabad teen die mede-gasheer, Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-185-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-916-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….