Nuus 09:00
BULLETIN 18 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die een-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof wat die naweek sal aankom
# Kaapstad het die laagste werkloosheidsyfer in die land
# En die Amerikaanse weermag maak nog 11 vermeende narkoterroriste dood
# Die DA verwelkom die minister van Landbou, John Steenhuisen, se bevestiging dat die eerste sending van een-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof die naweek in Suid-Afrika sal aankom. Die regering beplan om die land se hele kudde van meer as 14-miljoen beeste oor die volgende 12 maande in te ent. Sowat 28-miljoen dosisse is nodig om die uitbreking te bekamp. Beyers Smit van die DA sê die entstof sal groot verligting bring in die landbousektor:
# Die onderwyservakbond Sadou het die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders gekritiseer omdat hulle maandelikse ledegeld hef van werklose onderwysgegradueerdes. Die vakbond sê die beleid is onregverdig en plaas ekstra finansiële druk op jongmense wat sukkel om werk te kry. Hy sê die fooie verhoed gekwalifiseerde en passievolle gegradueerdes om die onderwysberoep te betree. Nomusa Cembi van Sadou doen ‘n beroep op die raad om die fooie te verwyder en voornemende onderwysers te ondersteun.
# Die Stad Kaapstad het jaar-op-jaar 113-duisend werksgeleenthede bygevoeg en ander metro’s so uitgestof. Daar is tans ‘n rekordgetal van 1,895-miljoen mense wat in die Moederstad werk. Dit is volgens Statistiek Suid-Afrika se Kwartaallikse Arbeidsopname vir die vierde kwartaal van 2025. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kaapstad is ook die leier onder Suid-Afrikaanse stede met die laagste werkloosheidsyfer van 19,8 persent. Dit word waarskynlik ondersteun deur die sterk toerismebedryf:
# Elf mense is dood in die Amerikaanse weermag se aanvalle op drie vermeende dwelmsmokkelvaartuie in die oostelike Stille Oseaan en Karibiese Eilande. Die weermag het die slagoffers as narkoterroriste beskryf. Die Amerikaanse Suidelike Kommando sê intelligensie het bevestig dat die vaartuie langs bekende dwelmsmokkelroetes beweeg en betrokke was by dwelmsmokkel-operasies. Die aanvalle bring die dodetal in die Amerikaanse veldtog, sedert September verlede jaar, op minstens 135 te staan. Die aanvalle is gekritiseer deur regskenners en Demokratiese lede van die Kongres wat sê dit kom neer op die moord op burgerlikes.
# Sokker: Real Madrid se Kampioeneliga-uitspeelwedstryd teen Benfica is vir tien minute gestaak nadat Vinicius Junior geweier het om verder te speel ná ‘n beweerde rassistiese opmerking deur Gianluca Prestianni van Benfica. Die Brasiliaan het pas Madrid laat voorloop toe die Argentyn hom konfronteer. Skeidsregter Francois Letexier het die wedstryd ná Vinicius se klagte tydelik gestaak. Dit het in die 60ste minuut hervat en Madrid het met 1-0 geseëvier. Trent Alexander-Arnold van Madrid veroordeel die voorval:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-642-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-920-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….