Nuus 07:00
BULLETIN 18 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Handel en Nywerheid verdedig die regering se handelstrategie
# Julius Malema striem Ramaphosa
# En Allianz Trade handhaaf Suid-Afrika se bestendige risikogradering
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Zuko Godlimpi, sê die regering se handelstrategie konsentreer nie op aankondigings nie, maar is aksie-georiënteer om deur handel te verdedig, diversifiseer en industrialiseer. Hy het gister tydens die staatsrede-debat in die Nasionale Vergadering gepraat. Godlimpi sê die Suider-Afrikaanse Doeane-unie se onderhandelings met Indië kan moontlik tot ‘n handelsooreenkoms lei wat toegang sal bied tot ʼn mark van 1,4-miljard mense:
# Die leier van die EEF, Julius Malema het president Cyril Ramaphosa se leierskap gekritiseer en die ANC blameer vir korrupsie en infiltrasie deur sindikate. Malema het tydens die debat oor die staatsrede gesê misdaad bly ‘n nasionale krisis en waarsku dat elektrisiteits- en wateruitdagings, veral in armer gemeenskappe, nog lank nie opgelos is nie. Hy het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy die land se hulpbronne aan die privaat sektor verkoop en versuim om beloftes oor sneltreine en slimstede na te kom:
# Die handelskredietversekeringsagentskap Allianz Trade, het Suid-Afrika se bestendige risikogradering onveranderd gelaat in sy jongste Country Risk Atlas. Die groep verwag ‘n BBP-groei van 1,3-persent vanjaar en 1,5-persent in 2027, ondersteun deur infrastruktuur- en energiehervormings. Die agentskap noem die regering van nasionale eenheid se pro-groei-houding en die Suid-Afrikaanse Reserwebank se drie-persent-inflasieteiken as positiewe faktore. Die rand het versterk en Suid-Afrika is nie meer op die Finansiële Aksietaakmag se gryslys nie, maar hoë werkloosheid en probleme met skuldvolhoubaarheid bly kommerwekkend.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê hy het aansienlik vordering gemaak om die aantal leerders op plasingslyste te verminder. Dit is ten spyte van ʼn groot aantal aansoeke wat vanjaar uiters laat ontvang is. Die departement se woordvoerder, Bronagh Casey, sê hulle het sedert 1 Januarie alleen meer as 26-duisend laat aansoeke vir graad R, een en agt ontvang, met meer as twee-duisend-500 tussen 2 en 11 Februarie:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, sê tydens die tweede ronde samesprekings met Amerika in Genève, Switserland, is ʼn ooreenkoms bereik oor riglyne vir toekomstige samesprekings. Tydens gister se vergadering is die bepalings bespreek waarvolgens Teheran sy kernprogram beperk onder toesig van die Verenigde Nasies se kernwapen-inspektoraat. Araqchi sê hy glo Amerika se posisie oor die kernkwessie is nou meer realisties. Hy sê die ontmoeting was oor die algemeen opbouend en hulle het goeie vordering gemaak.
# Rugby: Skotland kan moontlik sonder drie van sy spelers wees in Saterdag se Sesnasies-wedstryd teen Wallis in Cardiff. Flank Jamie Ritchie kan moontlik vir ‘n lang tyd op die kantlyn wees nadat hy verlede naweek sy skeen in die wedstryd teen Engeland gebreek het, terwyl daar steeds onsekerheid is oor die fiksheid van agtsteman Jack Dempsey en skrumskakel Jamie Dobie. Die afrigter van Skotland, Gregor Townsend, sal môre sy span aankondig. Skotland is tans tweede op die punteleer na Frankryk nadat hulle teen Italië verloor en Engeland geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-994-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-888-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….