Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig MTN het volle beheer oor die mobiele infrastruktuurmaatskappy IHS Holding Limited oorgeneem vir ‘n bedrag van van 35-miljard-rand. IHS sal as ‘n onafhanklike entiteit met sy eie bestuur in die groep geïntegreer word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die ANC in Tshwane het beweerde grootskaalse korrupsie ontbloot nadat die 2023/24-boekjaar se finansiële state nie betyds ingedien is nie. Volgens die metro is 3,6-miljard-rand onreëlmatig bestee.
Tweedens skryf die webblad beleggers in die sakevleuels van Suid-Afrika se grootste rugbyunies soek antwoorde oor die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se mislukte ekwiteitstransaksie met die Ackerley Sports Group.
En laastens is daar nuus oor die afsterwe van die Amerikaanse burgerregteleier, Jesse Jackson.
GAUTENG:
# The Star:
Berig ook oor die ANC se onthulling oor beweerde korrupsie in Tshwane. Die DA sê egter dis net ‘n gekonkel om van lede ontslae te raak wat nie hul agenda steun nie.
# Sowetan:
Berig honderde jong mense staan in Limpopo tou om hul aansoeke in te handig vir poste in die weermag. In party gevalle help ouers hul kinders om in die ry te staan.
# En The Citizen:
Skryf regskenners waarsku Johannesburg se inwoners moet geen afbetalingsooreenkomste met die Stad Johannesburg teken vir agterstallige munisipale skuld nie. Dit mag die inwoners verantwoordelikheid laat aanvaar vir geld wat hulle glad nie skuld nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina sê die land het genoeg water. Sy sê instandhouding en beleggings in waterinfrastruktuur is die grootste probleme. Die koerant skryf Stellenbosch oorweeg nou ook om waterbeperkings in te stel.
En tweedens skryf die koerant die eerste besending van een-miljoen dosisse enstof vir bek-en-klouseer sal moontlik die naweek uit Argentinië in die land aankom. ‘n Verdere vyf-miljoen dosisse word in Maart verwag. Sowat 14-miljoen beeste moet ingeënt word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Oos-Kaapse werkloosheid is nou ‘n voldwonge ramp wat heeltemal buite beheer is.
En tweedens skryf die koerant ‘n kenner van die Baai is ‘n sleutel-rolspeler in die hervestiging van renosters.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf met verskeie groot geleenthede wat die naweek gaan plaasvind, is daar na bewering geen geld beskikbaar om padverkeersbeamptes oortyd te betaal nie.
En tweedens word berig veral ouer inwoners ly die swaarste onder die munisipaliteit se rekeningfoute.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n hoëvlak-afvaardiging bestaande uit onder meer uit die Landdrostekommissie en die Landdroste en Regtersvereniging van Namibië het met die minister van Justisie, Wise Emmanuel, vergader om te vra dat ‘n kennisgewing oor diensvoordele in die Staatskoerant teruggetrek word.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese polisiehoof, luitenant-generaal Joseph Shikongo, sê die toesig oor aangehoudenes moet na die Namibiese Korrektiewe Diens oorgedra word.