Nuus 06:00
BULLETIN 18 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die DA se deelname aan die regering van nasionale eenheid was ten goede
# BOSA sê die werkkrisis verdiep met 12,4-miljoen Suid-Afrikaners werkloos
# En huldeblyke stroom in vir die Amerikaanse burgerregteleier Jesse Jackson
# Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sê werklike, tasbare vordering is gemaak onder die regering van nasionale eenheid, wat hy toeskryf aan sy party se strewe na hervorming. Hy was aan die woord tydens die debat oor president Cyril Ramaphosa se staatsrede in die Parlement gister. Steenhuisen sê die DA het bevoegdheid, fiskale dissipline en ‘n pro-groeibeleid in ‘n stelsel ingespuit wat lank deur wanbestuur en kaderontplooiing gekniehalter is:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die regering verskerp sy stryd teen bendegeweld, georganiseerde misdaad en geslagsgeweld. Cachalia het tydens die debat oor die staatsrede bevestig gesamentlike ontplooiing deur die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sal begin, ook in die Oos-Kaap. Hy sê senior polisiebestuurders sal gekeur word, en hervormings deur die Madlanga-kommissie sal in werking gestel word om openbare vertroue te herstel:
# Build One South Africa sê Suid-Afrika staar ‘n toenemende werkloosheidkrisis in die gesig, met 12,4 miljoen mense wat werkloos is. Die jongste opname deur Statistieke Suid-Afrika toon dat agt-miljoen amptelik werkloos is, en ‘n verdere vyf-miljoen word as potensiële werksoekers geklassifiseer. Die party het die regering van nasionale eenheid aangespoor om die ekonomie te laat groei en werk te skep, veral vir die jeug. Roger Solomons van BOSA sê swak onderwys en ekonomiese stilstand vererger die probleem.
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap eis ‘n onafhanklike ondersoek van die munisipale bestuurder in Stellenbosch, Geraldine Mettler, ná kommerwekkende berigte in The Cape Independent oor ‘n moontlike waterkrisis en bestuursmislukkings. Marius van Stade van die party vra ‘n eksterne oudit van die damvlakke, infrastruktuur, uitgawes en ingenieurskapasiteit sedert 2019. Hy sê watersekerheid raak alle inwoners. Hy eis deursigtigheid en verantwoordbaarheid en sê alle bevindings moet bekendgemaak word:
# President Donald Trump het hulde gebring aan burgerregteleier, eerwaarde Jesse Jackson, en hom beskryf as ‘n natuurkrag met baie persoonlikheid, deursettingsvermoë en lewenservaring. Die 84-jarige, wat saam met doktor Martin Luther King Junior gewerk het en twee keer in die 80’s vir president van die VSA gestaan het, is gister oorlede. Oudpresident Joe Biden sê Jackson was nie bang om die siel van die nasie te verlos nie, terwyl voormalige visepresident Kamala Harris die burgerregteleier as een van Amerika se grootste patriotte beskryf het.
# Olimpiese Spele: Die burgemeester van Los Angeles, Karen Bass, het die voorsitter van die reëlingskomitee vir die 2028 Spele, Casey Wasserman, versoek om uit te tree. Dit volg na onthullings oor sy ontmoetings met die veroordeelde sekshandelaar Ghislaine Maxwell, wat voorheen die meisie van die oorlede pedofiel Jeffrey Epstein was. Wasserman ontken ’n persoonlike of sakeverhouding met Epstein en die reëlingskomitee het verlede week ná ’n hersiening besluit dat hy in sy pos sal aanbly. Bass sê egter die raad se besluit is betreurenswaardig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-633-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-878-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….