Nuus 18:00
BULLETIN 17 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen sê die ekonomie het verbeter onder die koalisieregering
# Die regering verwelkom ‘n geringe verbetering in die werkloosheidsyfers
# En, Build One South Africa bring hulde aan die menseregte-ikoon, Jesse Jackson
# Die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die ekonomie toon werklike vordering onder die regering van nasionale eenheid, met inflasie op sy laagste punt in 20 jaar, twee agtereenvolgende begrotingsoorskotte en ‘n sterker rand. Steenhuisen het tydens die debat oor die staatsrede gewaarsku dat ekonomiese groei steeds te stadig is om genoeg werk te skep en armoede te verminder. Hy skryf baie van hierdie suksesse toe aan die DA se rol in die regering:
# Die regering het die jongste opname deur Statistieke Suid-Afrika verwelkom, wat toon dat indiensneming met 44-duisend toegeneem het terwyl werkloosheid met 172-duisend gedaal het. Dit het gelei tot ‘n daling van 0,5-persent in die amptelike werkloosheidsyfer. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, sê programme soos die presidensiële werkstimulus en openbare-privaat vennootskappe help om werk te skep, veral vir die jeug en vroue:
Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die 35-duisend nuwe werksgeleenthede verwelkom, wat tussen Oktober en Desember 2025 in die boubedryf geskep is. Macpherson sê die 130-duisend werksgeleenthede wat tussen Julie en September geskep is, beteken konstruksie is die tweede grootste werkskepper in die land. Macpherson sê volgehoue groei weerspieël toenemende vertroue in die bedryf wat verkryging, bestuur en projeklewering verbeter. Hy voeg by voortgesette belegging sal meer infrastruktuurprojekte voltooi, wat werkverskaffing en ekonomiese herstel landwyd sal bevorder.
# Build One South Africa het die ontslape eerwaarde Jesse Jackson geprys as ‘n reusefiguur in die wêreldwye stryd vir geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid. Jackson en wyle Martin Luther King Junior het nou saamgewerk en ‘n sleutelrol gespeel in die burgerregtebeweging.Hy het rassegrense verbreek toe hy in 1984 en 1988 as kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap gestaan het. BOSA-leier Mmusi Maimane het sy moed en visie geprys. Hy noem sy nalatenskap ‘n blywende wêreldwye baken vir geregtigheid.
# Krieket: Australië is uit die T20-Wêreldbekertoernooi nadat vandag se groepswedstryd tussen Zimbabwe en Indië in Kandy uitgereën het sonder dat ‘n bal geboul is. Australië het gehoop Ierland klop Zimbabwe vandag en Sri Lanka verslaan die Afrika-land Donderdag om nog ‘n kans te hê om die Super Agts te haal nadat hy twee van sy vorige drie groepswedstryde verloor het. Vandag se punte is egter gedeel en Zimbabwe dring deur saam met Sri Lanka, terwyl Australië, Ierland en Oman na die groepsronde huis toe gaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-022-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-896-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….