Nuus 17:00
BULLETIN 17 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom ‘n geringe verbetering in die werkloosheidsyfers
# President Cyril Ramaphosa bring hulde aan Jesse Jackson vir sy stryd teen ongeregtigheid
# En, die Forum for South Africa staak sy direkte betrokkenheid in die Senzo Meyiwa-saak
# Die regering het die jongste opname deur Statistieke Suid-Afrika verwelkom, wat toon dat indiensneming met 44-duisend toegeneem het terwyl werkloosheid met 172-duisend gedaal het. Dit het gelei tot ‘n daling van 0,5-persent in die amptelike werkloosheidsyfer. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, sê programme soos die presidensiële werkstimulus en openbare-privaat vennootskappe help om werk te skep, veral vir die jeug en vroue:
# President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die beroemde Amerikaanse burgerregteleier Jesse Louis Jackson Senior, wat vandag op 84-jarige ouderdom oorlede is. Ramaphosa het Jackson se standvastige steun vir Suid-Afrika se bevrydingstryd en sy wêreldwye stryd teen ongeregtigheid geloof. Hy het verwys na Jackson se anti-apartheidsaktivisme en die Nasionale Orde van die Metgeselle van O.R. Tambo wat in 2013 aan hom toegeken is. Die President het sy medelye betuig aan die Jackson-familie en die Rainbow PUSH-koalisie, ter ere van Jackson se blywende nalatenskap.
# Die Forum for South Africa het sy regstreekse betrokkenheid in die Senzo Meyiwa-saak teruggetrek sodat die hoof van intelligensie, Malesela Teffo, die saak onafhanklik kan hanteer. Die organisasie het beklemtoon hy ondersteun Teffo steeds en bly verbind tot verantwoordbaarheid en deursigtigheid. Tebogo Mashilompane van die Forum vra alle belanghebbendes om die geregtelike proses te respekteer en die howe toe te laat om voort te gaan sonder onnodige inmenging:
# Ekonomiese ontleders verwelkom China se besluit om vanaf 1 Mei 2026 tariewe op alle invoere uit 53 Afrikalande te verwyder. Dit volg ná die Afrika-Unie se 39ste beraad. Die belangrike beleid is daarop gemik om Afrika-uitvoere te bevorder, werk te skep en nywerheidsontwikkeling aan te moedig, terwyl Afrika-China-handelsbande ook versterk word. Ontleders sê dit bied Afrika-ekonomieë ‘n bestendige aanvraag en uiteenlopende geleenthede, wat China se strategiese invloed versterk. Hulle sê die sukses sal afhang van Afrika-lande om ander hindernisse te oorkom om van grondstowwe na waardetoegevoegde produksie te beweeg.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, speel vandag in Doha in sy eerste toernooi sedert hy verlede maand die loopbaan-Grand Slam beklink het deur die Australiese Ope te wen. Die 22-jarige Spanjaard pak die Fransman Arthur Rinderknech in die ronde van 32 op die Katarse Ope. Sy taaiste mededinger, die Italianer Jannik Sinner, het gister sy eerste wedstryd sedert Melbourne gespeel toe hy die Tsjeg Tomas Machac in skoon stelle verslaan het. Die top-gekeurde Alcaraz en Sinner sal eers ontmoet indien hulle na die eindstryd deurdring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-920-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-924-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….