Nuus 16:00
BULLETIN 17 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaners word gewaarsku oor ‘n moontlike verhoging in varkvleispryse weens bek-en-klouseer
# AfriForum maak beswaar teen Graaff-Reinet se naamsverandering
# En krieket: ‘n Voormalige Protea speel vir Italië in die Wêreldbeker al was hy nog nooit daar nie
# Suid-Afrikaners word gewaarsku om hoër varkvleispryse te verwag namate bek-en-klouseer en Afrika-varkpes die aanbod verminder. Bedryfsdata toon weeklikse slaggetalle het afgeneem. Verbruikers sal waarskynlik meer betaal vir tjops, spek en wors terwyl groothandelpryse van 32- tot 40-rand per kilogram styg. FNB se landbou-ekonoom, Paul Makube, het aan SABC News gesê Januarie se inflasiesyfers weerspieël reeds dubbelsyfer-stygings in sommige varkvleisprodukte:
Intussen bevraagteken die Azanian People’s Organisation die regering se hantering van die uitbreking, wat onlangs tot ‘n nasionale ramp verklaar is. AZAPO sê owerhede onderskat die ekonomiese uitwerking op boere, veral in townships en landelike gebiede. Die party het kommer uitgespreek oor beperkte toegang tot inligting en entstowwe en gewaarsku teen privaat verkryging. Hy het die Departement van Landbou versoek om mense in te lig, veebeheer af te dwing en billike entstofverspreiding landwyd te verseker.
# AfriForum het amptelik beswaar aangeteken teen die hernoeming van Graaff-Reinet in die Oos-Kaap na Robert Sobukwe Town, soos aangekondig deur die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie. Die organisasie voer aan die 240-jaar-oue naam het beduidende geskiedkundige waarde en sê die meeste inwoners is gekant teen die verandering. Woordvoerder Alana Bailey waarsku dit sal toerisme en maatskaplike samehorigheid benadeel en dring aan McKenzie moet die besluit terugtrek:
# Die AbaThembu-koning, Buyelekhaya Dalindyebo, het aangekondig hy het Mandla Mandela verwyder as hoof van Mvezo, met verwysing na politieke verskille oor die Israels-Palestynse konflik. Die aankondiging in Mthatha het gelei tot spanning in die Oos-Kaap. Die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika vra kalmte en sê behoorlike gebruiklike en wettige stappe moet gedoen word om ‘n hoof te verwyder. Oudpresident Nelson Mandela se kleinseun is ‘n ANC-parlementslid. Hy ondersteun Palestina, terwyl Dalindyebo vir Israel steun.
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore veelsydige speler JJ Smuts sê hoewel hy nog nooit in Italië was nie, het hy reeds ‘n mate van begrip vir die Italiaanse ingesteldheid. Die 37-jarige speel vir die Europese land in die T20-Wêreldbekertoernooi nadat hy die Proteas tussen 2017 en 2020 in ‘n paar witbalwedstryde verteenwoordig het. Smuts kwalifiseer vir Italië op grond van sy vrou, Judi Castignani, se afkoms. Italië het verlede week sy eerste Wêreldbekerwedstryd gewen teen Nepal, maar teen Engeland en Skotland verloor. Hul laaste groepswedstryd is Donderdag teen die Wes-Indiese Eilande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-en-49-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-939-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….