Nuus 14:00
BULLETIN 17 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering verleng weer die ad hoc-komitee se sperdatum
# Soil of Africa vra die ontplooiing van die Weermag in Tshwane se townships om misdaad te bestry
# En krieket: Nieu-Seeland is deur na die Super Agts van die T20-Wêreldbekertoernooi met ‘n oorwinning oor Kanada
# Die Nasionale Vergadering het ‘n derde verlenging goedgekeur aan die ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. Die komitee sou Vrydag sy werk afsluit, maar het nou tot 31 Maart. Parlementslede het op ‘n kort virtuele sitting ingestem om die mandaat te verleng om meer getuienis toe te laat. Dit sluit in die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, wat weer sal verskyn, ‘n sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, en ‘n moontlike voorlegging van president Cyril Ramaphosa.
Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het lede van die provinsiale Valke intussen gerusgestel te midde van onsekerheid oor hul hoof, Lesetja Senona. Dit volg op Senona se getuienis voor die Madlanga-kommissie wat hom verbind aan ‘n broederlike verhouding met die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala. Mkhwanazi het aan lede gesê hy is nie bewus van Senona se status nie, en aangevoer dat dissiplinêre sake onder nasionale gesag val. Hy het lede teen korrupsie en oordadige leefstyle gewaarsku en integriteit binne die geledere aangespoor.
# Die Soil of Africa-beweging vra dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag onmiddellik in Tshwane ontplooi word. Dit volg na die moord op ‘n e-taxi-bestuurder in Pretoria verlede week. Die beweging se voorsitter, Bongani Ramontja, sê hierdie sinnelose moord is deel van ‘n groeiende en diep ontstellende patroon van geweldsmisdaad in Atteridgeville en Mamelodi, waar moorde alledaags is:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, waarsku mense wat onwettig maatskaplike toelaes van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap ontvang, sal vervolg word. Sy het aan die geïntegreerde gemeenskapsregistrasie-uitreikprogram in die Wes-Kaap deelgeneem, wat daarop gemik is om regeringsdienste nader aan inwoners te bring. Tolashe het aan MDN News gesê begunstigdes wat kwalifiseer, moet hulle vir bevestiging aanmeld by SASSA-kantore om ontwrigting van hul betalings te vermy:
# Krieket: Nieu-Seeland is deur na die Super Agts van die T20-Wêreldbekertoernooi met ‘n oorwinning met agt paaltjies oor Kanada in Chennai. Yuvraj Samra se 110 van slegs 65 balle het die Kanadese tot 173 vir vier geneem, maar die Swartpette het die teiken binne 16 boulbeurte gehaal. Glenn Phillips en Rachin Ravindra het hulle aangevuur met ‘n vennootskap van 146 lopies om die derde paaltjie. Suid-Afrika, die mede-gashere, Indië en Sri Lanka, Engeland en die Wes-Indiese Eilande is ook reeds deur na die Super Agts.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-886-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-926-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….