Nuus 13:00
BULLETIN 17 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyf mynwerkers is ondergronds vasgekeer weens ‘n modderstoring in die Ekapa-myn in Kimberley
# Shadrack Sibiya verskyn Woensdag voor die Madlanga-kommissie
# En krieket: Australië het ‘n groot guns van Ierland en Sri Lanka nodig in die T20-Wêreldbeker
# Die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap het bevestig daar was ‘n modderstorting en vyf mynwerkers is ondergronds vasgekeer. Die onderneming sê in ‘n verklaring mynboubedrywighede is gestaak terwyl soek- en reddingspogings voortduur. Die Departement van Minerale Hulpbronne en die mynwerkers se gesinne is in kennis gestel en ondersteuningsmaatreëls is getref. Die bestuur sê verdere nuus sal verskaf word terwyl spanne werk om die vermiste werkers op te spoor.
# Die geskorste adjunk-nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya, sal na verwagting môre voor die Madlanga-kommissie verskyn. Verrigtinge is gister uitgestel nadat getuie F in die hospitaal opgeneem is. Die getuienisleier Matthew Chaskalson, sê die vroegste nuwe datum vir sy getuienis is 16 Maart, wat die kommissie se laaste geskeduleerde dag is. Getuie F het Sibiya verbind met die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Daar is ook beweer dat Sibiya mense gedreig het wat skelm beamptes in Gauteng aangemeld het.
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, sê die Donald Trump-administrasie se hantering van Oekraïne is skandelik, asook die versuim om Westerse bondgenootskappe te handhaaf. Trump het onlangs die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, daarvan beskuldig dat hy pogings vertraag om die oorlog met Rusland te beëindig. Clinton sê Trump en die Russiese president, Vladimir Putin, probeer voordeel te trek uit die ellende en dood van die Oekraïense volk:
# Krieket: Australië maak staat op Ierland en Sri Lanka om hulle te red in die T20-Wêreldbekertoernooi nadat hulle twee van hulle eerste drie wedstryde verloor het. Die Aussies, wat beskou word as ‘n swaargewig, het eers teen die wêreld-nommer-11, Zimbabwe, verloor voordat hulle gister in Kandy voor die mede-gasheer, Sri Lanka, geswig het. Hulle hoop Ierland klop vandag vir Zimbabwe en Sri Lanka skakel die Afrika-land Donderdag uit om die Super Agt-fase te kan haal. Australië se laaste groepswedstryd is Vrydag teen Oman.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-977-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-920-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-65-sent per vat.
# En ten slotte: Die Santa Skoenboks-projek, wat vanjaar sy 20ste verjaardag vier, soek vrywilligers om die vreugde in hul plaaslike gemeenskappe te deel. Die uitvoerende hoof, Deb Zelezniak, sê oor die afgelope 20 jaar is meer as 1,35-miljoen Santa Skoenbokse met spesifieke items oorhandig aan minderbevoorregte kinders reg oor die land. Sy sê vrywilligers maak ‘n groot deel uit van die werk wat hulle doen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….