Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die eenmalige toets teen die Wallabies in Australië in September sal meer spelers die kans gee om toetse te speel ter voorbereiding van volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in die land. Die wedstryd om die Mandela-Trofee sal op 27 September in Perth gespeel word. Erasmus sê hoewel dit bydra tot ‘n kalender wat reeds propvol is, insluitend die nuwe Nasieskampioenskap en die All Blacks se toer in Suid-Afrika, beplan hulle ook ‘n opwarmingswedstryd teen die Barbarians voor die begin van die toetsseisoen.
Drie Suid-Afrikaners is intussen onder die wedstryd-beamptes wat Wêreldrugby aangekondig het vir vanjaar se vroue-Sesnasies-, die Stille Oseaan-vier en die eerste Onder-21 vroue-Sesnasiesreeks. Aimee Barrett-Theron en Zoë Naudé sal skeidsregters wees in die Sesnasiesreeks en Giana Viljoen sal in die Onder 21-reeks optree. Barrett-Theron sal slegs die tweede vrou wees wat in 50 toetse as skeidsregter optree wanneer sy beheer neem in die eerste Sesnasies-wedstryd tussen Frankryk en Italië. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê die drie word beloon vir hul harde werk.
# Krieket: Australië maak staat op Ierland en Sri Lanka om hulle te red in die T20-Wêreldbekertoernooi nadat hulle twee van hulle eerste drie wedstryde verloor het. Die Aussies, wat beskou word as ‘n swaargewig, het eers teen die wêreld-nommer-11, Zimbabwe, verloor voordat hulle gister in Kandy voor die mede-gasheer, Sri Lanka, geswig het. Hulle hoop Ierland klop vandag vir Zimbabwe en Sri Lanka skakel die Afrika-land Donderdag uit om die Super Agt-fase te kan haal. Australië se laaste groepswedstryd is Vrydag teen Oman.
En die Suid-Afrikaans-gebore veelsydige speler JJ Smuts sê hoewel hy nog nooit in Italië was nie, het hy reeds ‘n mate van begrip vir die Italiaanse ingesteldheid. Die 37-jarige speel vir die Europese land in die Wêreldbekertoernooi nadat hy die Proteas tussen 2017 en 2020 in ‘n paar witbalwedstryde verteenwoordig het. Smuts kwalifiseer vir Italië op grond van sy vrou, Judi Castignani, se afkoms. Italië het verlede week sy eerste Wêreldbekerwedstryd gewen teen Nepal, maar teen Engeland en Skotland verloor. Hul laaste groepswedstryd is Donderdag teen die Wes-Indiese Eilande.
# En laastens, tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, speel vandag in Doha in sy eerste toernooi sedert hy verlede maand die loopbaan-Grand Slam beklink het deur die Australiese Ope te wen. Die 22-jarige Spanjaard pak die Fransman Arthur Rinderknech in die ronde van 32 op die Katarse Ope. Sy taaiste mededinger, die Italianer Jannik Sinner, het gister sy eerste wedstryd sedert Melbourne gespeel toe hy die Tsjeg Tomas Machac in skoon stelle verslaan het. Die top-gekeurde Alcaraz en Sinner sal eers ontmoet indien hulle na die eindstryd deurdring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….