Nuus 08:00
BULLETIN 17 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer onttrek haarself aan ‘n ondersoek na die salarisverhoging van die Sekretaris van die Parlement
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika het ‘n daadwerklike groeiplan nodig
# En die Godfather-ster Robert Duvall is op 95-jarige ouderdom oorlede
# Die Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka het haarself onttrek aan die ondersoek rakende die aanstelling, vergoeding en voordele van die Sekretaris van die Parlement, Xolile George. Die DA het ‘n klag by die Openbare Beskermer ingedien oor George se salarisverhoging van meer as 88-persent sedert 2022. Hy het ook gevra vir ‘n ondersoek na die oorbesteding van ses-miljoen-rand op die 2023 BRICS Parlementêre Forum. Gcaleka, wat na bewering in ‘n verhouding met George is, sê sy het redelikerwys ‘n botsing van belange in hierdie saak.
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê onder die huidige omstandighede sal ekonomiese groei laag bly, werkloosheid sal aanhou styg en Suid-Afrikaners sal steeds geleenthede tot ‘n beter lewe ontneem word. Die land is meer as ʼn dekade lank in ʼn groef van lae groei vasgevang, en as gevolg daarvan het die bruto binnelandse produk per capita sedert 2008 dieselfde gebly. Terence Corrigan van die instituut sê die regering moet ekonomiese groei die belangrikste beleid maak:
# Die MK-vroueliga sê die waterkrisis vererger, met krane wat leeg is, riool wat in strate afloop, en miljoene mense met ‘n onveilige watervoorraad. Die liga verwerp die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, se bewering dat watersekerheid gebalanseerd is en voer aan dit word nie weerspieël in inwoners se daaglikse stryd nie. Lindi Mtshali van die liga vra vir onmiddellike ingrypings, insluitend nood-watervoorsiening, tegniese spanne, duidelike verslagdoening, beskermde begrotings, teen-korrupsie stappe en geslagsgerigte beleide:
# Rugby: Die Universiteit van Kaapstad se Ikeys het die verdediging van hul titel sleg afgeskop met ʼn 28-22-nederlaag teen die Universiteit van Pretoria se Tuks in die eerste ronde van die Varsity-beker in Pretoria. In Bloemfontein het die 2024-kampioene van die Universiteit van die Vrystaat ʼn bonuspunt-oorwinning van 50-39 oor Stellenbosch se Maties behaal. Die Noordwes-universiteit se Arende spog met ʼn welverdiende 59-42-sege oor die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein. Die Universiteit van Johannesburg het al drie punte opgeraap en ʼn skitterende 61-41-oorwinning oor die pas bevorderde Emeris in Johannesburg aangeteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-530-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-956-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Oscar-wenner, Robert Duvall, veral bekend vir The Godfather en Apocalypse Now, is op 95-jarige ouderdom dood. Hy het ʼn roemryke loopbaan van ses dekades gehad nadat hy sy debuut in die 1963-fliek, To Kill A Mockingbird, gemaak het. Duvall was veral bekend vir sy rol as mafia-raadgewer in Francis Ford Coppola se The Godfather, waarvoor hy sewe Oscar-benoemings ontvang het. Hy het in 1983 ʼn Oscar gewen vir sy vertolking van ʼn country-sanger wat beter dae geken het in Tender Mercies. Hy het die 1997-fliek, The Apostle, geskryf, geregisseer en daarin gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….