Nuus 07:00
BULLETIN 17 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Parlementslede begin vandag om president Ramaphosa se staatsrede te debatteer
# OUTA sê Suid-Afrika het nie ‘n tekort aan waterwette nie, maar eerder aan gevolgebestuur
# En krieket: Pakistan ontsê die Protea-vroue skoonskip in die T20-reeks
# Lede van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies debatteer vandag en môre oor president Cyril Ramaphosa se staatsrede. Die president het die rede verlede Donderdag gelewer en die regering se voorkeure, planne en beleidsrigting vir die komende jaar uiteengesit. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die staatsrede-debat is ‘n belangrike deel van die Parlement se grondwetlike rol om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika het beperkte fiskale speelruimte voor die nasionale begroting. Dit is die gevolg van laer finansieringskoste, ’n inflasieteiken van drie-persent en stygende kommoditeitspryse. Die buro sê hierdie faktore kan die staatsfinansies verbeter en meer as 100-miljard-rand in ekstra inkomste inbring. Hy voeg by die komende begroting sal ‘n deurslaggewende toets wees om te sien of die regering die ekstra fondse gebruik om skuld te verminder en finansies te bestendig, en besteding of belasting nie te verhoog nie.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste is noodsaaklik, maar waarsku wetgewing alleen sal nie die verbrokkelende water- en sanitasiedienste regstel nie. Die organisasie voer aan die land het reeds sterk wette, maar swak leierskap en ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid het veroorsaak dat infrastruktuur ineengestort het. Julius Kleynhans van OUTA sê gevolgebestuur en onafhanklike regulering is van kritieke belang om dienslewering te herstel:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy gaan ondersoek instel na die dood van ʼn tienjarige graad 5-seun by Reagile Primary School, in die Winnie Mandela-area van Tembisa. Volgens berigte het ʼn groep leerders, insluitend die oorledene, gister gespeel toe ʼn doelpaal blykbaar op die leerder geval het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die ondersoek sal samelopend met die polisie-ondersoek gedoen word:
# Senior Oekraïnse en Russiese amptenare ontmoet vandag in Switserland vir ʼn tweede ronde vredesamesprekings. Dit word weer gelei deur president Donald Trump van Amerika se verteenwoordigers, Steve Witkoff en Jared Kushner. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het in aanloop tot die samesprekings herhaal dat sy land onwillig is om gebied in die Donbas-streek af te staan, wat ʼn belangrike eis van die Kremlin is. Hy het bygevoeg Kiëf sal ʼn opbouende rol in die trilaterale gesprekke speel, maar gee toe hulle verskil van Amerika wat sekere veiligheidswaarborge betref.
# Krieket: Die Protea-vroue het die T20-reeks van drie wedstryde teen Pakistan met 2-1 gewen, ten spyte van ʼn nederlaag van 53 lopies in die derde en laaste wedstryd in Benoni. Kaptein Fatima Sana het ʼn onoorwonne 47 bygedra tot die besoekers se mededingende telling van 144 vir sewe. Daarna het Suid-Afrika laat slap lê en was na 17 boulbeurte op 91 almal uit met Sadia Iqbal wat drie paaltjies platgetrek het. Die spanne fokus nou op die eendagreeks van drie wedstryde waarvan die eerste een Sondag in Bloemfontein gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-819-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-948-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….