Nuus 11:00
BULLETIN 25 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê Suid-Afrika moet sy buitelandse beleid hersien ná die saak teen Israel
# ‘n Gesiene menseregte-prokureur glo Suid-Afrika sal sy saak teen Israel wen
# En Dricus du Plessis kry ‘n heldeontvangs op OR Tambo
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê ongeag wat die Internasionale Geregshof besluit, is ’n hersiening van Suid-Afrika se bilaterale betrekkinge nodig. Die hof sal môre beslis of hy noodmaatreëls teen Israel gaan toestaan of nie, na aanleiding van Suid-Afrika se beskuldigings dat die Israelse militêre operasie in Gaza ‘n staatsgeleide volksmoord is. Die ISS sê Suid-Afrika benodig nou duidelike, besliste buitelandse beleidstandpunte oor Hamas, Israel, Iran, en die VSA en sy bondgenote, met optrede wat ooreenstem met sy uitsprake.
Die bekende internasionale menseregte-prokureur, Francis Boyle, glo intussen Suid-Afrika sal ‘n noodbevel teen Israel kry om geweld en volksmoord teen die Palestyne te beëindig. Môre se uitspraak sal bepaal of ʼn skietstilstand in Gaza ingestel gaan word en meer humanitêre hulp in die gebied toegelaat sal word. Boyle het aan die Anadolu-agentskap gesê die bevel kan aansienlike gevolge vir Israel hê:
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, sê die regering het nie en het nog nooit ʼn beleid van kaderontplooiing gehad nie. Dit volg ondanks die Zondo-kommissie se verslag wat bevind het die ANC se kaderontplooiingsbeleid is ongrondwetlik en onwettig. Die DA het die minister in die Parlement gevra of die regering die voorkeur vir kaderontplooiing bo ʼn professionele Staatsdiens gaan laat vaar. Kiviet sê indiensneming in die Staatsdiens word volgens ʼn meriete-gegronde werwing- en keuringstelsel gedoen wat die konsep van kaderontplooiing ontoepaslik maak.
# ‘n Jong vrou en haar twee neefs sal in April gevonnis word nadat die Hooggeregshof in Pretoria hulle skuldig bevind het aan die moord op haar ouers, haar hoogswanger suster en jonger boetie in 2016. Onthatile Sebati was maar 15 toe sy met die plan vorendag gekom het om haar gesin naby Brits in Noordwes te vermoor om die versekering-geld in haar sak te steek. Sy het haar neefs, Tumelo en Kagiso Mokone, 100-duisend-rand betaal nadat die slagoffers vermoor is. Familielede het ná die uitspraak gesê die drie is boos.
# Gemengde gevegskuns: Suid-Afrika se eerste Ultimate Fighter-kampioen, Dricus du Plessis, het vanoggend ʼn heldeontvangs op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng ontvang. Hy het die verdedigende kampioen van Amerika, Sean Strickland, Sondag in Toronto, Kanada, in ʼn uitdagende geveg van vyf rondes verslaan om die UFC-middelgewigtitel te buit. Du Plessis sê die titel is vir hom ʼn groot stap vorentoe:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-984-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-14-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….