Nuus 18:00
BULLETIN 16 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ekurhuleni skors Kemi Behari en Linda Gxasheka ten volle na getuienis by Madlanga-kommissie
# Standard Bank en UNISA stel een-miljoen-rand-navorsingsprogram oor klimaatsverlies en -skade bekend
# En, 17 leerders is beseer in ‘n botsing op die N4
# Die Stad Ekurhuleni het die Metro se hoof van Regsdienste, Kemi Behari, en die hoof van Menslike Hulpbronne, Linda Gxasheka, ten volle geskors. Die twee is laat verlede jaar met volle betaling voorlopig geskors. Die stap volg na getuienis voor die Madlanga-kommissie oor die hantering van dissiplinêre prosesse wat verband hou met die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi. Behari word ook daarvan beskuldig dat hy deel was van ‘n groep wat optrede teen Mkhwanazi in ‘n blouligskandaal met die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala gekeer het.
# Standard Bank en die Universiteit van Suid-Afrika het saamgespan om ‘n navorsingsprogram vir verlies en skade weens klimaatsverandering binne die volgende jaar teen ‘n miljoen-rand te befonds. Die program is geanker in UNISA se Instituut vir Volhoubaarheid en Korporatiewe Burgerskap. Saam met die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, sal die program toepaslike beleide instel en oplossings op gemeenskapsvlak ondersteun. Plaaslike vermoë sal gebou word en Suid-Afrikaanse navorsers sal klimaatswetenskap aan maatskaplike beleid kan koppel en begroot vir aanpassings en minder rampgevare.
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het ‘n beroep gedoen op aanspreeklikheid na ‘n leerdervervoerongeluk op die N4 ooswaarts naby Atteridgeville in Tshwane. ‘n Nege-sitplek Toyota Condor met 17 leerders het met ‘n Mercedes-Benz gebots. Die bestuurder het sonder ‘n geldige rybewys bestuur. Daar was geen sterftes nie maar al die aleerders is met beserings in die hospitaal opgeneem. Die woordvoerder van die Departement, Lesiba Mpya, vra vir aanspreeklikheid en verskerpte wetstoepassing deur die Gautengse Vervoerinspektoraat:
# Die voormalige Keniaanse president Uhuru Kenyatta sê vordering word gemaak met pogings om vrede in die Demokratiese Republiek die Kongo te herstel. Kenyatta, wat die proses fasiliteer, het bevestig dat beraadslagings vorder voor ‘n Angola-bemiddelde wapenstilstand met die M23-groep wat môre sal begin. Hy het tydens die Afrika-Unie-beraad in Addis Abeba, Ethiopië, gesê die ooreenkoms is gemik om gevegte in die oostelike DRK te beëindig:
# Krieket: Afghanistan se oorwinning oor die Verenigde Arabiese Emirate het aan Suid-Afrika ‘n plek in die Super Agt van die T20-Wêreldbeker besorg. Afghanistan het die teiken van 161 behaal met nog vyf paaltjies staande en het steeds ‘n kans om ten koste van Kanada deur te dring. Die onoorwonne Proteas is tans bo-aan Groep D en speel Woensdag teen die VAE in hul laaste groepwedstryd. Mede-gashere Indië en die Wes-Indiese Eilande is die ander spanne wat reeds deur is na die volgende fase, wat Saterdag begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-450-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-994-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….