Nuus 17:00
BULLETIN 16 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra vir strenger immigrasiebeheer in die voorlegging van hersiene witskrif
# Tshwane se watervoorsiening is bestendig met reservoir-vlakke wat herstel
# En, die Kremlin verwerp Europese beskuldigings dat Aleksei Navalny met gifstof van gifpylpaddas vermoor is
# ActionSA het voorstelle ingedien rakende die hersiene witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming, wat strenger beheer vereis en burgers eerste stel. Die party stel ‘n jaarlikse asiel-beperking van tien-duisend voor, die afdwinging van die Eerste Veilige Land-beginsel, en die oprigting van Integrasie- en Repatriasie-sentrums. Woordvoerder Lerato Ngobeni sê hulle stel ook ‘n dubbelstroomstelsel voor wat ekonomiese migrante en vlugtelinge skei, en kyk na mense wat hul vaardighede kan aanpas:
# Die Stad Tshwane berig sy algehele watervoorsieningstelsel is steeds gesond, met volgehoue herstel by al die reservoirs en voorsieningsones. Terwyl geïsoleerde drukpunte in Streek Een en Mabopane voortduur, is die netwerk grootliks bestendigh en presteer binne aanvaarbare vlakke. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê hulle monitor steeds alle sones vir volgehoue lewering en om vinnige reaksie op enige nuwe probleme te verseker:
# Die Kremlin het beskuldigings van vyf Europese lande verwerp dat Rusland twee jaar gelede die kritikus Aleksei Navalny vermoor het met ’n gifstof afkomstig van gifpylpaddas. Een van president Vladimir Putin se mees uitgesproke binnelandse kritici is in Februarie 2024 in ‘n afgeleë Arktiese gevangenis dood. Brittanje, Frankryk, Duitsland, Swede en Nederland het die naweek in ‘n gesamentlike verklaring gesê ontledings van monsters van Navalny se liggaam het die teenwoordigheid van die gifstof epibatidien bevestig, wat in gifpylpaddas in Suid-Amerika voorkom en nie in Rusland nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, sê hy het hy steeds swakpunte in sy spel ondanks sy vele suksesse. Die 22-jarige Spanjaard, wat verlede maand sy loopbaan-Grand Slam voltooi het deur die Australiese Ope te wen, speel dié week in die Katarse Ope in Doha. Alcaraz, wat sy veldtog môre teen die Fransman Arthur Rinderknech open, sê hy fokus net op verbetering in elke toernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-944-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-2-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-46-sent per vat.
# En laastens, inwoners van Gauteng voel die koue terwyl ‘n kouefront bewolkte weer, rukwinde en reën oor die provinsie bring. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel minimum temperature van 11 grade Celsius in Johannesburg en 12 in Pretoria, met maksimum temperature van onderskeidelik 23 en 26. Motoriste word versoek om versigtig te wees. Die Weerdiens monitor steeds die tropiese sikloon Gezani in die Mosambiekkanaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….