Nuus 16:00
BULLETIN 16 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zimbabwe en Namibië verbied invoere van vee en vleis uit Suid-Afrika
# Die GOOD-party kritiseer die Stad Kaapstad se voorgestelde muur langs die N2
# En rugby: Perth is in September gasheer vir die Springbokke teen die Wallabies
# Zimbabwe en Namibië het die invoer van vleis en vee uit Suid-Afrika verbied weens die verergerende bek-en-klouseer-uitbreking. Ander lande soos Botswana, Zambië, Mosambiek en China het ook beperkings ingestel om hul veebedrywe te beskerm. President Cyril Ramaphosa het die uitbreking tot ‘n nasionale ramp verklaar terwyl gevalle steeds landwyd versprei. Die regering het inentingspogings van stapel gestuur om die siekte te beperk en Suid-Afrika se siektevrye status te herstel.
# Forum for South Africa sê dis noodsaaklik dat polisiebeamptes se agtergrond ondersoek word, maar dis nie genoeg nie. Ramaphosa het Donderdag in sy staatsrede gesê die Staatsveiligheidsagentskap sal weer die polisie se senior bestuur en metropolisiedepartemente nagaan, wat leefstyloudits sal insluit. FOSA se leier, Tebogo Masholompane, sê hierdie stap volg na onthullings voor die Madlanga-kommissie en die parlementêre ad hoc-komitee:
# Die GOOD-party in Kaapstad sê die veiligheid van motoriste op die N2 is ononderhandelbaar, maar moet nooit as wapen gebruik word om van armoede ‘n misdaad te maak of inwoners van informele nedersettings van hul waardigheid te stroop nie. Die metro het meer as 100-miljoen-rand bewillig vir ‘n muur langs die N2 om motoriste teen kapings en rooftogte te beskerm. Siyabulela Mamkeli van GOOD beskryf dit as verdelend en kosmeties:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, sal later vandag die hoof van die Verenigde Nasies se kernwaghond ontmoet voor die Amerikaans-Iranse gesprekke om hul geskil oor Teheran se kernprogram aan te pak. Dit volg terwyl Amerikaanse oorlogskepe ontplooi word na die Midde-Ooste. Die twee kante het vroeër hierdie maand oppervlakkige gesprekke in Oman gevoer. Araqchi het op X gesê hy is in Genève met daadwerklike idees om ‘n regverdige ooreenkoms te bereik, maar bygevoeg Iran sal nie gedreig word nie.
# Rugby: Perth, bekend vir sy sterk ondersteuning van die Springbokke, sal in September die wêreldkampioen se gasheer wees vir die Mandela-uitdaagplaat teen Australië. Dit is een van ses tuistoetse wat Rugby Australië vir die Wallabies bevestig het. Perth sal ook in Julie ‘n toets teen Italië aanbied in die eerste Nasieskampioenskap. Die Aussies speel eers teen Ierland in Sydney en Frankryk in Brisbane. Japan sal in Augustus die Wallabies in Townsville aanpak, gevolg deur die Bledisloebeker-wedstryd teen die All Blacks in Sydney.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-401-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-996-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….