Nuus 14:00
BULLETIN 16 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die E-taxibestuurder-moordsaak is vir verdere ondersoek uitgestel
# Burgerlike ongevalle in Oekraïne weens bomme het gestyg in 2025
# En krieket: Australië verkeer vandag onder groot druk in die T20-Wêreldbekertoernooi ná hy teen Zimbabwe verloor
# Die saak teen die beskuldigdes in die moord op die 22-jarige Nigeriese e-taxibestuurder Isaac Satlat in Gauteng is tot volgende Maandag uitgestel vir verdere ondersoek. Dikeledi Phela, Gositsiane Machidi en McClaren Mushwana het vlugtig in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklag van moord en roof. Beeldmateriaal wys hoe Satlat verwurg en in sy motor vasgehou word. Sy liggaam is in Pretoria-Wes gevind. Die beskuldigdes bly in aanhouding, Phela in die Kgosi Mampuru-gevangenis en die mans in Pretoria-Noord se polisie-selle.
# Die Madlanga-kommissie wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, het die getuienis van Getuie F tot volgende maand uitgestel nadat hy in die hospitaal opgeneem is. Hoofgetuienisleier Matthew Chaskalson sê die versoek is deur ‘n mediese sertifikaat ondersteun. Hoewel die getuie onbepaalde uitstel versoek het, het die voorsitter, oudregter Mbuyiseli Madlanga, beslis dat sy getuienis uitgestel word tot die datum wat tans die laaste geskeduleerde dag van verrigtinge is:
# Die Stad Kaapstad sê die komende grondvrystellingsprogram sal ekonomiese potensiaal in die metro ontsluit. Sowat 50 goeie ontwikkelingsgeleenthede kom op die mark en bied persele vir woon-, handels-, nywerheids-, gemeenskaps- en gemengde-gebruiksmoontlikhede om te koop of te huur. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die veiling skep buitengewone geleenthede vir beleggers om grond in werksgeleenthede te verander:
Nuus uit die buiteland:
# Die internasionale konflik-waghond, Action on Armed Violence, sê burgerlike ongevalle in Oekraïne weens bomme, het verlede jaar met 26-persent gestyg. Twee-duisend-248 burgerlikes is dood en 12-duisend-493 beseer, wat 33-persent meer is as in 2024. Die ergste aangetekende aanval was op 24 Junie in Dnipro, toe Russiese missiele ‘n passasierstrein, woonstelle en skole getref het en 21 mense dood is. Die groep se uitvoerende direkteur, Iain Overton, sê wanneer straffeloosheid as normaal geag word, is oorlogsmisdade nie meer skokkende uitsonderings nie, maar word eerder as ‘n manier van oorlogvoering beskou.
# Krieket: Australië is onder groot druk in vanmiddag se T20-Wêreldbeker-groepwedstryd teen die mede-gasheerland Sri Lanka in Pallekele. Die Aussies het vroeër onverwags teen Zimbabwe verloor en benodig vandag ‘n oorwinning om hul kanse te verbeter om vir die Super Agt-fase te kwalifiseer. Indien hulle weer verloor, sal hulle op ander groepuitslae moet staatmaak om deur te dring. Die ander gasheerland, Indië, en die Wes-Indiese Eilande is reeds deur na die volgende ronde. Die groepfase eindig Vrydag en die Super Agt begin Saterdag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-745-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-9-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….