Nuus 13:00
BULLETIN 16 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie stel getuie F se getuienis uit om mediese redes
# Grootskaalse dieselgebruikers trek voordeel uit die Inkomstediens se diesel-terugbetalings
# En rugby: Engeland sak terug tot vierde plek op die wêreldranglys ná hulle op Murrayfield vasval
# Die Madlanga-kommissie wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek, het die getuienis van Getuie F tot volgende maand uitgestel nadat hy in die hospitaal opgeneem is. Hoofgetuienisleier Matthew Chaskalson sê die versoek is deur ‘n mediese sertifikaat ondersteun. Hoewel die getuie onbepaalde uitstel versoek het, het die voorsitter, oudregter Mbuyiseli Madlanga, beslis dat sy getuienis uitgestel word tot die datum wat tans die laaste geskeduleerde dag van verrigtinge is:
Soil of Africa sê intussen die afgtergrond-ondersoeke van die Ekurhuleni-metropolisie in Gauteng moet regverdig en deursigtig wees. Getuienis voor die Madlanga-kommissie het ernstige wangedrag in die departement uitgewys. Stadsbestuurder Kagiso Lerutla hou toesig oor die jaarlikse misdaadrekord-ondersoekproses, wat met ‘n gefaseerde benadering ingestel word om bedryfs-voortsetting te verseker. Bongani Ramontja van Soil of Africa sê dis belangrik om die EMPD se geloofwaardigheid te versterk:
# Die Inkomstediens sê grootskaalse dieselgebruikers in die landbou-, die bosbou- en die mynbousektor kan vanaf April terugbetalings eis op 100-persent van die diesel wat gebruik word vir bedrywighede wat daarvoor in aanmerking kom. Dit is ‘n toename vanaf 80-persent. Die diens is tans besig om sy stelsels vir die verandering aan te pas. Die nuwe koers, wat vanaf die April-opgawe geld, sal eers in Mei aangedui word wanneer ‘n BTW-opgawe ingedien moet word.
Nuus uit die buiteland:
# Die FBI glo ‘n handskoen wat naby Nancy Guthrie se huis in Tucson, Arizona, gevind is, is ‘n deurslaggewende ontwikkeling in haar ontvoeringsaak. Die Amerikaanse nuusleser Savannah Guthrie se 84-jarige ma het twee weke gelede vanaf haar huis vermis geraak. Die FBI sê forensiese DNS-toetse word op die handskoen gedoen in ‘n poging om ‘n moontlike verdagte te identifiseer. Guthrie sê die familie hoop steeds haar ma sal terugkeer:
# Rugby: Frankryk het Engeland in die derde plek op die wêreldranglys vervang nadat die Engelse weereens teen Skotland verloor het op hul tuisveld, Murrayfield in Edinburgh. Die Sesnasies-nederlaag van 31-20 het die verdedigende kampioen bevoordeel, al het hy geen ranglyspunte verdien toe hy Wallis 54-12 geklop het nie. Die Springbokke en die All Blacks is steeds in die boonste twee posisies. Ierland is vyfde nadat hy Italië geklop het, gevolg deur Argentinië, Australië en Fidji. Skotland is negende en Italië tiende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-12-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….