Nuus 12:00
BULLETIN 16 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ekurhuleni-metropolisie voer verpligte agtergrond-ondersoeke en leefstyloudits uit
# Die grens tussen Kenia en Somalië heropen in April na 15-jaar
# En rugby: Die Junior Springbokke maak gereed vir ‘n klipharde toets teen Georgië
# Die Ekurhuleni-Metropolisiedepartement in Gauteng begin vandag met verpligte agtergrond-ondersoeke en leefstyloudits vir alle lede. Dit volg op bewerings van ernstige wangedrag voor die Madlanga-kommissie, insluitend beamptes met misdaadrekords. President Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede bevestig senior metropolisiebestuurders sal weer gekeur word. Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, het ook ‘n hersiening van betwiste bevorderings gelas.
# Die vakbonde in die Koördinerende Bedingingsraad vir die Staatsdiens beplan om te staak oor die mediese skema vir staatsamptenare, GEMS, se onlangse verhoging van 9,8-persent in lede se bydraes. Die verhoging sal in April tot 9,5-persent aangepas word. Die president van die vakbond vir verpleegkundiges DENOSA, Simon Hlungwani, sê hulle gaan volgende week na GEMS se hoofkantoor in Pretoria opruk en eis dat die verhoging geskrap word:
# Die Rethink Your Drink-veldtog vra provinsiale regerings om die regulering van alkohol te versterk. Die aantal drankwinkels en handelsure kan beperk word, en die verkoop van alkohol in groot houers kan beëindig word. Ramaphosa het oormatige alkoholgebruik verbind aan verswakte groei en ontwikkeling in kinders, geweld, misdaad en padongelukke. Die veldtog se bestuurder, Kashifa Ancer, sê dringende vordering moet gemaak word met alkoholhervormings:
Nuus uit die buiteland:
# Kenia se president, William Ruto, het aangekondig dat die grens met Somalië in April heropen word na 15 jaar. Die grens is in 2011 gesluit na aanvalle deur Al-Shabaab. Vorige heropeningsplanne het misluk nadat hernude geweld uitgebreek het. Ruto sê inwoners van Mandera is onregverdig geskei van familielede in Somalië. Kenia en Somalië deel ‘n grens van 680-kilometer en het voortgesette veiligheids- en maritieme geskille.
# Rugby: Die Junior Springbokke se aanvalsafrigter, Melusi Mthethwa, sê hulle sal die komende toer na Georgië gebruik om spelers se samespel en begrip van die wedstrydmodel te verbeter. Suid-Afrika speel Woensdag ‘n opwarmingswedstryd teen die Lelo Saracens voor hulle volgende week Georgië se Onder 20’s in twee toetse aandurf. Dit is ter voorbereiding van die Junior Wêreldkampioenskap in Junie en Julie. Mthethwa sê Georgië is berug vir sy fisiese, aanvallende spel wat presies die soort fisiese styl is wat sy manne nodig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-694-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-4-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….