Nuus 11:00
BULLETIN 16 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê almal moet saamwerk om gehalte-onderwys aan jongmense te verskaf
# Die Suid-Afrikaanse slagoffer Juliette Bryant beskryf Jeffrey Epstein as ‘n meesterbrein-misdadiger
# En rugby: Die Junior Springbokke maak gereed vir ‘n klipharde toets teen Georgië
# President Cyril Ramaphosa sê daar is groot uitdagings in onderwys ondanks vordering om toegang tot skole uit te brei en matriekuitslae te verbeter. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief toegang tot hulpbronne en gehalte-onderrig is ongelyk en skole in townships en landelike gebiede is oorvol. Ramaphosa sê om hierdie gaping te vul, is die Basiese Onderwys-indiensnemingsprogram ingestel, wat meer as 1,3-miljoen werksgeleenthede geskep het. Hy sê die regering wil meer werksgeleenthede vir jongmense skep terwyl hulle gehalte-onderwys vir almal voorsien.
# Die Suid-Afrikaanse slagoffer van Jeffrey Epstein, Juliette Bryant, het die ontslape veroordeelde seksoortreder as ‘n hoogs-manipulerende misdaad-meesterbreinbeskryf. Epstein het haar in 2002 in Kaapstad gewerf as ‘n 20-jarige eerstejaar-universiteitstudent en voornemende model. Bryant sê hy het haar tussen 2002 en 2004 verskeie kere verkrag op sy privaat Karibiese eiland en sy plaas in Nieu-Mexiko. Sy het aan Newzroom Afrika gesê sy is nie met ander mans gedeel nie:
# Gauteng se polisie het nog twee verdagtes vasgetrek na verlede week se moord op ‘n e-taxibestuurder in Pretoria-Wes. Volgens die voorlopige ondersoek is die slagoffer in sy voertuig vermoor deur ʼn man en vrou wat ʼn rit op ʼn e-taxitoepassing bestel het. Die voorval is op die voertuig se kamera vasgevang. Die bestuurder se liggaam is in Atteridgeville gevind. Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê hulle soek na ʼn vierde verdagte:
# Die Europese Unie se hoof van Buitelandse Beleid, Kaja Kallas, het die idee verwerp dat Europa beskawingsuitwissing kan verwag. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê Washington sal slegs saam met Europa werk indien hy verander om Amerikaanse leierskap oor massa-migrasie, vryhandel en groter Europese verdedigingsbesteding te aanvaar. Kallas sê kritiek op Europa is nou in die mode ondanks al die goeie dinge wat die vasteland bied:
# Rugby: Die Junior Springbokke se aanvalsafrigter, Melusi Mthethwa, sê hulle sal die komende toer na Georgië gebruik om spelers se samespel en begrip van die wedstrydmodel te verbeter. Suid-Afrika speel Woensdag ʼn opwarmingswedstryd teen die Lelo Saracens voor hulle volgende week Georgië se Onder 20’s in twee toetse aandurf. Dit is ter voorbereiding van die Junior Wêreldkampioenskap in Junie en Julie. Mthethwa sê Georgië is bekend vir sy fisiese, aanvallende spel wat presies die soort fisiese styl is wat sy manne nodig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-457-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-991-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….