Nuus 07:00
BULLETIN 16 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê die regering gaan die verspreiding van bek-en-klouseer-entstof bespoedig
# Israelse lugaanvalle eis die lewens van 11 dood in Gaza
# En krieket: Indië klop Pakistan om deur te dring na die T20-Wêreldbeker Super-8-fase
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die regering sal die verspreiding van bek-en-klouseer-entstof versnel om die uitbreking te bekamp en biosekerheid te verskerp om vee en boere te beskerm. Die regering sê hy wil die hele nasionale kudde van 14-miljoen inent waarvoor hy ongeveer 28-miljoen entstofdosisse nodig het. Steenhuisen het gister toesig gehou oor die inentingsveldtog in die Wes-Kaap, en sê die doel is dat Suid-Afrika die eerste keer sedert 2019 weer internasionaal as bek-en-klouseer-vry verklaar word:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, waarsku Suid-Afrika se waterinfrastruktuur is in ‘n haglike toestand, hoofsaaklik weens verouderde infrastruktuur en groot aanvraag. Die regering het erken hy benodig sowat 400-miljard-rand om die agterstand met instandhouding by die land se swakste munisipaliteite uit te wis. Majodina het by die Afrika-Unie-beraad in Ethiopië gesê die land se watersekerheid is in die weegskaal:
# Getuie F, ʼn lid van Gauteng se Georganiseerde Misdaad-eenheid, hervat vandag sy getuienis voor die Madlanga-kommissie. Hy het verlede week sy dringende hofaansoek teen sy verskyning en ʼn interdik om die kommissie te keer om WhatsApp-boodskappe op sy foon te vertoon, teruggetrek. Getuie F het na bewering kommunikasie tussen die vermeende misdadige tenderpreneur, Vusimuzi “Cat” Matlala, en die geskorste nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, hanteer. Hy het volgens berigte ook omkoopgeld van Matlala en ʼn vermeende kartellid, Katiso “KT” Molefe, na Sibiya geneem.
# Die raad van die Gautengse kleinbusoperateurs het bevestig leerdervervoerdienste reg oor Gauteng is ten volle hervat ná na twee weke van ontwrigtings. Die voorsitter, Jabulani Khumalo, het bevestig operateurs het die Gautengse Onderwysdepartement se uitstaande betalings ontvang. Dit bring daaglikse verligting aan ongeveer 238-duisend leerders. Hy beklemtoon die raad is steeds verbind tot veilige, betroubare vervoer en vra vinniger goedkeuring van permitaansoeke wat lank gesloer het.
# Minstens 11 Palestyne is dood in Israelse lugaanvalle in die noordelike en suidelike Gazastrook in wat die Israelse weermag beskryf as ‘n reaksie op Hamas se skending van die wapenstilstand. Medici sê minstens ses mense is dood in ‘n Israeliese lugaanval op ‘n tentkamp met ontheemde gesinne. Gesondheidsamptenare sê nog vyf mense is dood in ‘n ander aanval in Khan Younis. Israeliese amptenare beskryf Sondag se aanvalle as akkuraat en in lyn met internasionale reg, en sê Hamas het die Oktober-wapenstilstand geskend, met die doel om Israelse troepe te benadeel.
# Krieket: Mede-gashere Indië het Pakistan in Colombo met 61-lopies afgeransel om die T20-Wêreldbeker se Super-Agt-fase te haal. Pakistan wou aanvanklik die wedstryd teen Indië boikot nadat Bangladesj uit die toernooi verwyder is. Indië het 175 vir sewe aangeteken, met Ishan Kishan wat op 77 die meeste bygedra het. Daarna het Pakistan se kolforde ineengestort en hulle was op 114 almal uit. Die Wes-Indies het intussen ʼn oortuigende oorwinning van nege paaltjies oor Nepal behaal en deurgedring na die Super-Agt, terwyl Amerika met Namibië afgereken het om hul hoop lewend te hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-705-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-28-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….