Nuus 13:00
BULLETIN 15 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ethiopiese eerste minister vra Afrika se werkende soewereiniteit tydens die AU-beraad
# Vervoerdepartement in KwaZulu-Natal ondersoek ‘n bedrieglike padwaardigheidsertifikaat vir leerdervervoer
# En tennis: Destanee Aiava van Australië kritiseer die ‘vyandige’ tenniskultuur in ‘n plasing oor uittrede
# Die Ethiopiese eerste minister, Abiy Ahmed, het tydens die 39ste Afrika-Unie-beraad in Addis Abeba, Afrika-leiers aangespoor om van ‘n basiese eenheid na ‘n werkende soewereiniteit te beweeg. Ahmed het selfstandigheid, ekonomiese en tegnologiese eienaarskap, sowel as proaktiewe wêreldwye betrokkenheid beklemtoon. Hy het ook verwys na Afrika se behoefte aan ‘n selfversekerde, verenigde AU en strategiese posisionering om die vasteland se toekoms te vorm:
Intussen het die Angolese president en uittredende voorsitter van die Afrika-Unie, João Lourenço, tydens die beraad gevra vir versnelde optrede rakende watersekerheid en sanitasie. Lourenço het beklemtoon daar is vordering met Agenda 2063 en die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied. Hy het ook beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om konflikte in Soedan en die Demokratiese Republiek die Kongo te stop. Lourenço het die 2026-voorsitterskap aan Burundi se president, Évariste Ndayishimiye, oorhandig. Hy het Ndayishimiye sukses toegewens met die bevordering van algehele eenheid, solidariteit, vrede, bestendigheid en inklusiewe ontwikkeling.
# Suid-Afrikaners kan tot vandag openbare kommentaar indien oor die Konsep-Hersiene Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming. Die Departement van Binnelandse Sake het die sperdatum van 31 Januarie verleng om deelname te bevorder. Voorstelle sluit in ‘n puntegebaseerde burgerskapstelsel, nuwe geskoolde werkers- en aanvangsvisums, en ‘n Digitaal-intelligente Bevolkingsregister. Hervormings dek ook kwotas, gespesialiseerde immigrasiehowe en administratiewe boetes vir diegene wat die tyd oorskry. Voorleggings sal hersien word voor die konsep in die Parlement ter tafel gelê word.
# Die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer en Menslike Nedersettings het met ‘n ondersoek begin na die beweerde bedrieglike uitreiking van ‘n padwaardigheidsertifikaat aan ‘n onpadwaardige leerdervervoertaxi. Dit volg op verhoogde kommer na die Vanderbijlpark-ongeluk wat 14 lewens geëis het. ‘n Voertuig wat in Pietermaritzburg geregistreer en in die Oos-Kaap uitgeklaar is, is later gevind met 23 in plaas van 16 leerders aan boord. Die woordvoerder Ndabezinhle Sibiya sê voldoeningstoetse en omsigtigheidsondersoeke duur provinsiewyd voort:
# ActionSA het die Stad Johannesburg se voortgesette gebruik van geskatte fakturering veroordeel en sê dis onregverdig en onakkuraat. Die party sê inwoners word afgesny ten spyte van aktiewe faktureringsgeskille, met betalings wat dikwels nie op rekeninge weerspieël word nie. ActionSA het streng toesig oor die Stad se opgradering van die 70-miljoen-rand se faktureringstelsel belowe en eis ‘n einde aan geskatte fakturering, beskerming vir rekeninge wat betwis word en die dringende afhandeling van navrae.
# En, tennis: Die Australiese speler van Samoaanse herkoms, Destanee Aiava, het vroeër vandag haar naderende uittrede aangekondig en beweer daar is ‘n “rassistiese, chauvinistiese, homofobiese en vyandige” kultuur in die sport. Sy het tennis haar “toksiese kêrel” genoem en gesê sy sien uit na ‘n nuwe begin. Aiava was op die hoogtepunt van haar loopbaan 133 op die enkelspelranglys, maar sy was dikwels die teiken van aanlyn boelies. Die voormalige junior sensasie sê al is sy dankbaar vir die geleentheid om die wêreld te verken en vriende te maak, het tennis ook haar gesondheid, haar gesin en haar selfbeeld benadeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….