Nuus 09:00
BULLETIN 15 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Uitvoerende hoof van AgriSA beklemtoon die dringende behoefte aan bek-en-klouseer-entstowwe
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer beklemtoon leerdervervoer moet gedokumenteer en veilig wees
# En rugby: Ierland klop Italië in die Sesnasies en Skotland skok Engeland
# AgriSA se uitvoerende hoof, Johann Kotzé, sê die huidige bek-en-klouseer-uitbreking is ‘n ernstige bedreiging vir biosekerheid en plaas boere onder finansiële druk. Hy verwelkom die rampverklaring, maar beklemtoon die sentralisering van entstowwe moet doeltreffende optrede meebring. Kotzé het dringende korttermynmaatreëls uiteengesit, insluitend om entstowwe uit Argentinië, Turkye en Botswana in te voer, privaat veeartse te betrek en nasionale inenting te belyn ten einde die uitbreking te beperk en vee in alle provinsies te beskerm:
Die Drakenstein Munisipaliteit is intussen onder veeartsenykundige kwarantyn geplaas ná bevestiging van bek-en-klouseer in die Vlakkeland, Paarl-gebied. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ilse Schoombee, sê alle diere met gesplete hoewe word as moontlik besmet beskou en die beweging van vee, voer, toerusting of karkasse is verbode tensy ‘n spesiale permit deur ‘n staatsveearts uitgereik is. Sy bevestig die provinsiale Departement van Landbou het die bevel uitgereik en owerhede doen stappe om die uitbreking te beperk:
# Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê haar departement moet verseker operateurs wat leerders vervoer het die regte dokumente om hul ondernemings wettig te bedryf. Die LUR het gister in Soweto met operateurs gepraat oor veiligheidsnakoming te midde van voortdurende kommer oor ongelisensieerde voertuie en leerderveiligheid. Sy het operateurs gevra om aansoek te doen vir permitte en beklemtoon behoorlike lisensiëring en veiligheidstandaarde is noodsaaklik om leerders te beskerm:
# Staatsdiensvakbonde wat by COSATU geaffilieer is, beplan ‘n landwye middagete-betoging vir 24 Februarie om die Mediese Skema vir Staatsamptenare se bydraeverhoging van 9,8-persent vir 2026 te verwerp. Hulle sien dit as ‘n aanval op werkerslone. Die verhoging volg op ‘n styging van 13,4-persent verlede jaar, wat die tweejaarlikse verhoging op meer as 23-persent te staan bring. Die vakbonde sê die stap ondermyn kollektiewe bedinging en ignoreer laer salarisaanpassings. Hulle beplan ook ‘n nasionale aksiedag by GEMS se hoofkantoor in Pretoria op 26 Februarie.
# Gewapende aanvallers op motorfietse het Saterdag minstens 30 mense vermoor en huise en winkels afgebrand tydens klopjagte in drie dorpe in die Niger-staat in noordwes-Nigerië. Die aanvalle op dorpe in die Borgu plaaslike regeringsgebied, digby die grens met die Benin Republiek, is deel van toenemende aanvalle waarvoor misdadigers die skuld kry. Gemeenskappe in die noorde van Nigerië is ontheem en word geteister deur dodelike aanrandings en ontvoerings vir lospryse. Onveilige toestande in Nigerië plaas toenemende druk op die regering om bestendigheid te herstel.
# En laastens. rugby: Ierland se afrigter, Andy Farrell, het sy span geprys vir hul verbetenheid na ‘n vasberade oorwinning van 20-13 oor Italië in ‘n senutergende Sesnasies-ontmoeting Saterdag. Die Iere moes ‘n paar keer met tweede-beste tevrede wees en was met rustyd 10-5 agter, maar twee drieë deur Jack Conan en Robert Baloucoune het hulle in die tweede helfte oor die wenstreep gedra. En op Murrayfield het Skotland Engeland se 12 oorwinnings tot ‘n einde gebring met ‘n 31-20 sege. Ierland speel volgende naweek ‘n moeilike wegwedstryd teen Engeland, terwyl die Italianers teen Frankryk in Lille sal speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….