Nuus 08:00
BULLETIN 15 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa rig ‘n waarskuwing oor konflik en onbestendigheid in Afrika tydens die Afrika-Unie-beraad
# John Steenhuisen beloof sy volle ondersteuning aan die DA in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing
# En krieket: Aiden Markram en Marco Jansen help Suid-Afrika om Nieu-Seeland met sewe paaltjies te wen
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is diep bekommerd oor toenemende konflik en onbestendigheid op die vasteland. Ramaphosa het Afrika-leiers by die Afrika-Unie toegespreek en sy verbintenis tot Agenda 2063 herbevestig. Hy bepleit dringende politieke betrokkenheid wat weens ongrondwetlike regeringsveranderings in sekere lande verbied is. Ramaphosa versoek wapenstilstande en inklusiewe dialoog in Soedan en Suid-Soedan en veroordeel M23-rebelle se voortgesette grensbedreigings in die oostelike Demokratiese Republiek die Kongo:
# DA-leier John Steenhuisen sê hy bly daartoe verbind om die party teen 2029 tot Suid-Afrika se grootste te laat groei. Steenhuisen het in Mpumalanga die DA se prestasies in die nasionale regering, insluitend ekonomiese bestendigheid en verbeterde dienslewering uitgelig, en die behoefte aan inklusiewe ekonomiese beleide beklemtoon. Steenhuisen het bevestig hy sal voortgaan om aktief aan veldtogte deel te neem. Hy sê hy sal die nuwe leierskap ondersteun en verseker dat munisipaliteite en provinsies gereed is vir bekwame DA-bestuur:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering het herhaal dat die hervorming van plaaslike regering aan wetgewing moet voldoen. Die president, Bheke Stofile, sê interregeringsamewerking is belangrik en hulle gaan met nasionale en provinsiale regerings saamwerk om hervormings in lyn te bring, vermoë te bou en samehangende implementering te verseker. Hy het ook ‘n beroep gedoen op beter professionele optrede, rampbestuur, sterker aanspreeklikheid en betekenisvolle begrotingstoewysings om waardigheid te herstel en gemeenskapsvertroue te herbou:
# Die voorsitter van die parlementêre gesamentlike staande komitee oor Verdediging, Malusi Gigaba, het die EFF-parlementslid Carl Niehaus se versoek dat hy homself moet onttrek, van die hand gewys. Niehaus het verwys na die ANC-reël oor opsystaan en Gigaba se hangende hofsaak. Gigaba het gesê Niehaus mislei die komitee. Hy sê hy was nie voorsitter by vergaderings sedert die kwessies by die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie aan die lig gekom het nie. Hy het ook verwys na Niehaus se verhouding met die Gupta-broers en parlementêre prosedures aangehaal.
# Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het Saterdag in ‘n boodskap oor eenheid, na Amerika verwys as die “kind van Europa”. Rubio het by die jaarlikse Veiligheidskonferensie in München gepraat, waar Europese nasies hul eie onafhanklikheid wil bevorder maar ‘n vennootskap met Amerika probeer handhaaf. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, en die Duitse minister van Buitelandse Sake, Johann Wadephul, was ná die toespraak optimisties. Litaue se oudminister van Buitelandse Sake, Gabrielius Landsbergis, meen egter die toespraak het nie van bestaande Amerikaanse standpunte afgewyk nie, maar is bloot meer beleefd aangebied.
# En ten slotte, krieket: ‘n Onoorwonne 86 nie uit nie deur die Protea-kaptein Aiden Markram het Suid-Afrika gister gehelp om met sewe paaltjies teen Nieu-Seeland te wen in hul derde T20-Wêreldbeker-wedstryd in Ahmedabad. Speler van die Wedstryd, Marco Jansen, het vier paaltjies vir 40 lopies geneem en gehelp om Nieu-Seeland tot ‘n beskeie totaal van 175 vir sewe te beperk. Die Proteas het reageer met 178 vir die verlies van drie paaltjies, met nog 17 balle oor. Suid-Afrika is nou deur na die die Super Agt-fase van die kompetisie en speel hul laaste groepwedstryd Woensdag teen die Verenigde Arabiese Emirate.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….