Nuus 11:00
BULLETIN 14 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD kritiseer Ekurhuleni Metropolisie vir versuim om tugstappe teen beamptes te doen
# Die kragstelsel is bestendig met Eskom wat dieselkoste sny
# En krieket: Laura Wolvaardt lei Suid-Afrika na ’n reeksoorwinning oor Pakistan
# Die assistent-direkteur vir ondersoeke by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Thulani Magagula, het aan die Madlanga-kommissie gesê dat ses Ekurhuleni-metropolisiebeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle na bewering ‘n buitelandse burger met 120-duisend-rand afgepers het, geen interne tugstappe sal ondergaan nie. Magagula sê OPOD het in 2024 aanbevelings gemaak dat die munisipaliteit optree, maar geen verhore is gehou nie. Hy het bevestig dat die eenheid destyds onder die geskorste adjunkhoof Julius Mkhwanazi geval het:
# Suid-Afrika se kragstelsel bly bestendig, ondersteun deur verbeterings onder Eskom se Voorsieningsherstelplan. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê die Energiebeskikbaarheidsfaktor het tot 65,04-persent gestyg vir die jaar tot dusver, terwyl dieselbesteding 4,88-miljard-rand laer is as verlede jaar. Die land het 273 agtereenvolgende dae sonder toevoeronderbrekings aangeteken. Sy sê Eskom sal tweeduisend-429-megawatt beskikbaar stel voor Maandag se aandspitstyd:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement moedig inwoners aan om beskerming eerste te stel vandag op Valentynsdag, aangesien toetse vir seksueel oordraagbare infeksies onder mans tussen 15 en 49 jaar oud verlede jaar tot meer as agtduisend-809 toegeneem het. Die adjunkdirekteur vir Vrywillige Mediese Manlike Besnydenis en Kondoombestuur, Maeshela Maheya, sê meer as tien-miljoen vroulike kondome is versprei, wat die teikens met 103-persent oorskry. Meer as 15-duisend tienerswangerskappe is egter in 2025 aangeteken. Sy waarsku ouer mans teen die uitbuiting van jong meisies en vra gemeenskapswaaksaamheid:
# President Donald Trump sê die regimeverandering in Iran is “die beste ding wat kan gebeur.” Trump wou nie sê wie hy as leier wil sien nie, maar meen “daar is mense” wat kan oorneem. Iran se geestelike heerser, Ajatollah Ali Khamenei, het nog nie op Trump se jongste uitsprake reageer nie. Intussen het die VSA ‘n tweede vliegdekskip na die Midde-Ooste gestuur om druk vir ‘n kernooreenkoms op Iran te plaas. Trump het die VSA in sy eerste termyn aan ‘n Obama-era kernooreenkoms met Iran onttrek en sanksies hervat wat die ekonomie ernstig onder druk geplaas het.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse kaptein Laura Wolvaardt het gisteraand sonder moeite haar span tot ‘n oorwinning van ses paaltjies gelei in die tweede van drie T20-wedstryde teen Pakistan op Willowmoorepark in Benoni. Die wedstryd is weens weerlig tot 14 boulbeurte per span beperk en die besoekers het 100 vir 9 aangeteken. Die briljante Wolvaardt het in die Proteas se beurt ‘n onoorwonne 40 lopies van 29 balle gemoker. ‘n Reeksoorwinning is nou verseker met nog net een kragmeting oor in die eendagreeks van drie. Die laaste T20-wedstryd vind Maandag ook op Willowmoore plaas.
# En ten slotte: Die Twee Oseane Akwarium vier ‘n spesiale mylpaal met Ember en Echo, die Afrika-pikkewynkuikens, wat hierdie week een jaar oud word. Die twee, wat in Februarie verlede jaar gebore is, was die eerste pikkewyne wat in ‘n dekade by die akwarium uitgebroei het. Hulle is sorgvuldig grootgemaak en het floreer en geleer om met selfvertroue te waggel, te eet en te swem, wat hoop bied vir die kritiek bedreigde spesie. Die publiek kan vandag en môre aan die verjaardagvieringe by die akwarium in die Victoria en Alfred Waterfront in Kaapstad deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….