Nuus 08:00
BULLETIN 14 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA waarsku taakspanne kan nie regeringsmislukkings regstel sonder wetstoepassing nie
# AgriSA waarsku teen ernstige finansiële druk op veeprodusente
# En krieket: Die Proteas speel vandag teen Nieu-Seeland in die T20 Wêreldbeker
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê meer taakspanne en komitees alleen kan nie Suid-Afrika se regeringsmislukkings regstel sonder daar behoorlike toepassing en gevolge nie. Die organisasie glo sistemiese korrupsie ondermyn steeds openbare instellings, en swak implementering en beperkte aanspreeklikheid bly groot uitdagings. Die uitvoerende hoof van Outa, Wayne Duvenage, sê ware hervorming sal slegs plaasvind wanneer daar duidelike sperdatums is en stappe geneem word teen diegene wat versuim om hul werk te doen:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het die invoer van noodvoorrade van bek-en-klouseer-entstof goedgekeur om te help om die veesektor te beskerm. Die owerheid het spesiale magtiging verleen om die Dollvet bek-en-klouseer-entstof in te voer, wat verseker dat boere en veeartse diere teen die hoogs aansteeklike siekte kan beskerm. Alle invoere sal streng gehalte- en veiligheidstoetse ondergaan. Rodgers Baloyi van SAHPRA sê die Departement van Landbou sal verspreiding van die entstof landwyd koördineer:
AgriSA sê intussen president Cyril Ramaphosa se verklaring van die voortgesette bek-en-klouseer-uitbreking as ‘n nasionale ramp moet ‘n behoorlik gekoördineerde nasionale reaksie tot gevolg hê. Die organisasie waarsku dat boere en landelike gemeenskappe reeds onder ernstige finansiële druk is as gevolg van bewegingsbeperkings, vertraagde verkope en verhoogde biosekuriteitskoste. Die uitvoerende hoof AgriSA, Johann Kotzé, sê streng nakoming oor plase en die veewaardeketting is noodsaaklik om die uitbreking te beperk.
# First National Bank het sy stokvelrekeningaanbod volledig gedigitaliseer. Dit is gemik op Suid-Afrika se elf-miljoen stokvel-lede. Die nuwe stelsel maak volledige rekeningbestuur via die FNB-toep en aanlynbankdienste moontlik, wat die reëling dat drie lede ‘n tak moet besoek uitskakel. Die stap is daarop gerig om die risiko van die hantering van kontant te verminder en verlig administratiewe pligte van tesouriers. FNB bedien tans 120-duisend stokvelle met ‘n algehele kontantvloei wat teen Desember 2024, 13,3-miljard-rand bereik het.
# Krieket: Die boonste topspanne in Groep D, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, speel vandag teen mekaar in die T20-Wêreldbekertoernooi. Hulle kragmeting in Ahmedabad, Indië, begin vanmiddag om half-vier, Suid-Afrikaanse tyd. Albei spanne het hul eerste twee wedstryde gewen – die Proteas teen Kanada en Afganistan, terwyl die Swartpette vir Afganistan en die Verenigde Arabiese Emirate verslaan het. Vandag se wedstryde begin met die ontmoeting tussen Ierland en Oman in Colombo, Sri Lanka, gevolg deur die wedstryd tussen Engeland en Skotland in Kolkata, Indië.
# En ten slotte: Sake floreer vir huweliksaansoekbeplanners in Parys, wat as die “Stad van Liefde” bekend staan, met verliefde paartjies wat duisende rand betaal vir vars aansoekervarings. Vir baie beplanners is Valentynsdag die besigste van die jaar. Kliënte betaal ongeveer 38-duisend-rand vir aansoekpakkette aan die oewers van die Seine-rivier. Vir die luukse mark is daar fyn uitgewerkte aansoeke aan boord van seiljagte of in kastele, vir tot soveel as 200-duisend-rand. TV-programme soos Emily in Paris en die Olimpiese Spele van 2024 het die stad se wêreldwye sigbaarheid as ‘n romantiese bestemming ‘n hupstoot gegee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….