Nuus 18:00
BULLETIN 13 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OPOD veroordeel die gebrek aan disiplinêre optrede teen EMPD-beamptes verbind met die Putfontein-vragmotordiefstal
# Premier Panyaza Lesufi verwelkom die SANW-ontplooiing om onwettige mynbedrywighede in Gauteng te pak
# En, Eskom dreig met regstappe oor die voorgestelde elektrisiteitshandelsreëls
# Die assistent-direkteur vir Ondersoeke van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Thulani Magagula, het aan die Madlanga-kommissie gesê die Ekurhuleni Metropolitaanse Polisiedepartement het versuim om twee beamptes te dissiplineer oor ‘n vragmotordiefstal van een-miljoen-rand in Putfontein in 2023. Die saak behels EMPD-beamptes, Adrian McKenzie en Kasher Lee-Stols, asook die privaat sekuriteitsbeampte Etienne van der Walt. Magagula sê die ondersoek het tot stilstand gekom weens vermiste en bang getuies ten spyte van getuiebeskerming:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, verwelkom die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om die polisie by te staan in hul stryd teen onwettige mynbedrywighede. President Cyril Ramaphosa het dit gisteraand tydens sy staatsrede aangekondig. Lesufi se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die Weermag se teenwoordigheid is ‘n bepalende en noodsaaklike ingryping om die toenemende bedreiging van onwettige mynbedrywighede te bekamp:
# Eskom waarsku hy sal regstappe doen indien die energiereguleerder, NERSA, nie die voorgestelde elektrisiteitshandelsreëls wysig nie. Die kragvoorsiener het tydens verhore wettige en tegniese bekommernisse geopper en sê die voorgestelde reëls kan markhervorming en kleinhandel-mededinging ondermyn. Eskom het tien regsbesware uiteengesit en gefaseerde markopenings voorgestel. Hy ondersteun bilaterale handel, maar voer aan alle verbruikers moet netwerkkoste betaal. Verskeie handelaars steun die raamwerk, maar vra aanpassings om belegging en mededingendheid te bevorder.
# ‘n SpaceX-vuurpyl is vroeg vanoggend uit Florida gelanseer met ‘n bemanning van twee Amerikaanse NASA-ruimtevaarders, ‘n Franse ruimtevaarder en ‘n Russiese ruimtevaarder op pad na die Internasionale Ruimtestasie vir ‘n agt maande lange wetenskaplike sendi”ng rondom die aarde. Die twee-fase Falcon 9-vuurpyl, met die afstandbeheerde Crew Dragon-kapsule “genaamd “Freedom”, is vanaf die Cape Canaveral-ruimtestasie gelanseer. NASA sê met die aankoms sal die span werk aan ‘n verskeidenheid wetenskaplike, mediese en tegniese navorsingstake.
# Krieket: Die nuweling Italië hoop om voorste toernooie aan te bied nadat hy gister sy heel eerste T20-Wêreldbeker-oorwinning behaal het. Die Italianers het Nepal met tien paaltjies geklop in Mumbai, Indië, toe die Australies-gebore broers Justin en Anthony Mosca maklik die wenteiken van 124 kafgedraf het. Italië is eerder bekend vir sokker as vir krieket, maar kaptein Harry Manenti hoop die Wêreldbekertoernooi sal krieket se beeld in die land verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-135-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-997-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….