Nuus 15:00
BULLETIN 13 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gautengse polisielede is opdrag gegee om nie die gedenkrit vir Wiandré Pretorius by te woon nie
# Die VF Plus sê dringende ingryping is nodig om die Gautengse waterkrisis op te los
# En tennis: Victoria Mboko beweeg nader aan die top-tien ná sy die Australiese Ope-kampioen in Katar verslaan
# Gautengse polisielede is opdrag gegee om nie vanaand die gedenkrit vir die voormalige polisiereservis Wiandré Pretorius in Boksburg by te woon nie. Hy het Saterdag sy eie lewe geneem, enkele dae ná ‘n aanslag op sy lewe. Pretorius was ‘n persoon van belang in die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se ondersoek na die moord op die sakeman Emmanuel Mbhense in 2022 en die sluipmoord op ‘n getuie in die Madlanga-kommissie, Marius van der Merwe, bekend as Getuie D. ‘n Amptelike opdrag verbied polisielede om deel te neem.
# Die Vryheidsfront Plus sê Gauteng se voortslepende waterkrisis is nie net weens beperkte hulpbronne nie, maar ook weens ingewortelde wanadministrasie, swak beplanning en onvoldoende instandhouding van infrastruktuur. Gemeenskappe word steeds deur wateronderbrekings geteister, en inwoners in gebiede soos Midrand, Melville en die suide van Johannesburg het besluit om daarteen te betoog. Jaco Mulder van die VF Plus sê Gauteng het dringende opknapping van infrastruktuur nodig, asook streng beheer oor waterverliese:
# President Cyril Ramaphosa sê 622 skole het voordeel getrek uit die Neem ‘n Skool Aan-program om die regering se pogings tot die verbetering van onderwys te ondersteun. Hy het tydens die gholf-fondsinsamelingsgeleentheid ná die staatsrede in Kaapstad gesê die opbrengs gaan onmiddelik na die liefdadigheidsorganisasie. Ramaphosa sê samewerkingspogings van talle persone, privaat organisasies en staatsdepartemente ondersteun steeds die program en dra by tot die sukses van die land se onderwys-stelsel:
# Statistieke Suid-Afrika sê mynbouproduksie het in Desember verlede jaar met 2,5-persent op ‘n jaargrondslag gestyg, gerugsteun deur sterk winste in ystererts en mangaan. Platinumgroepmetale en steenkool het dalings aangeteken, en seisoensaangepaste produksie het met 1,2-persent gedaal in vergelyking met November. Juan-Pierre Terblanche van Statistieke SA sê algehele mineraalverkope vir verlede jaar het met 7,3-persent gestyg vergeleke met 2024, wat dui op hoër vraag en stygende verbruiksgoedere-pryse:
# Tennis: Die jong Kanadees Victoria Mboko beweeg nader aan die wêreld-top-tien nadat sy die Australiese Ope-kampioen, Elena Rybakina, in die kwarteindronde van die Katarse Ope geklop het. Die wêreld-nommer-drie van Kazakstan het haar laaste nege wedstryde gewen, insluitend teen nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, in verlede maand se eindstryd van die Australiese Ope. Die 19-jarige Mboko is tans 13de op die ranglys nadat sy verlede seisoen buite die top-300 begin het. Sy sal Maandag onder die top-tien inbeweeg as sy Jelena Ostapenko van Letland in die halfeindronde klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-937-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….