Nuus 11:00
BULLETIN 13 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus sê Ramaphosa is uit voeling met die werklikheid
# Die Gautengse Onderwysdepartement gaan ‘n onafhanklike regsonderneming aanstel om die dood van ‘n graad R-leerder te ondersoek
# En rugby: Ses veranderings word aanngebring aan Ierland se span vir die Sesnasies-wedstryd teen Italië
# Die Vryheidsfront Plus beskuldig president Cyril Ramaphosa daarvan dat hy uit voeling is met die werklikheid en sê die waarheid is dat Suid-Afrika se ekonomie en samelewing in ‘n diep krisis verkeer. Ramaphosa het in sy staatsrede die land se ekonomiese vooruitgang uitgelig, terwyl hy die uitdagings van werkloosheid, misdaad en die verergerende waterkrisis erken het. Die VF Plus sê om oor geïsoleerde sake soos kredietgraderings, skuldvermindering, ‘n kortstondige verbetering in kragvoorsiening en die sterkte van die rand te spog, is misleidend en ontken die werklikheid.
Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, sê intussen die staatsrede was ‘n verkiesingsveldtog-toespraak gevul met herhalende verbintenisse en vae beloftes. Hy sê Ramaphosa het vanuit die gemak van ‘n elite-borrel gepraat terwyl miljoene burgers die werklikhede van die land beleef, insluitend werkloosheid en misdaad. Maimane sê Suid-Afrikaners het ‘n plan nodig wat gelyk is aan die omvang van die krisisse waarmee die nasie te kampe het:
# Die Gautengse Onderwysdepartement is besig om ‘n regsonderneming aan te stel om die omstandighede rondom die dood van ‘n graad R-leerder van die Bernard Isaacs Primary School in Coronationville, Johannesburg, te ondersoek. Die seun is vroeër die maand in die hospitaal dood nadat hy op die skoolterrein beseer is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê LUR Matome Chiloane sal die kind se gesin vandag besoek:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die 2009-bevinding oor klimaatsgevare herroep wat deur oudpresident Barack Obama aanvaar is. Die Agentskap vir Omgewingsbeskerming het bevind ses kweekhuisgasse, insluitend koolstofdioksied en metaan, hou ‘n gevaar in vir openbare gesondheid. Omgewingsgroepe sê die besluit is die grootste terugslag oor klimaatsverandering. Trump sê die skuif is die grootste enkele deregulatoriese besluit in Amerika se geskiedenis:
# Rugby: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, het ses veranderings aangebring vir môre se Sesnasies-wedstryd teen Italië in Dublin wanneer hulle gaan probeer terugslaan na die nederlaag van 36-14 teen Frankryk. Twee spelers van Ulster, Robert Baloucoune en Cormac Izuchukwu, sal hul Sesnasies-buiging maak. Die vleuel James Lowe is teruggeroep en Craig Casey is die skrumskakel. James Ryan en Joe McCarthy is die slotte met Edwin Edogbo wat sy toetsbuiging kan maak nadat hy op die bank gekies is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-346-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-965-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….