Nuus 09:00
BULLETIN 13 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê Ramaphosa se staatsrede bied niks nuuts nie
# Kaapstad se burgemeester verwelkom die weermagontplooiing in bendegeteisterde gebiede
# En vandag is Wêreldradiodag, ter herdenking van ‘n kragtige medium wat inlig, vermaak en opvoed
# Die EFF-leier Julius Malema sê president Cyril Ramaphosa se staatsrede het grootliks bestaan uit dinge waaroor hy in die verlede gepraat het net die intensiteit het verskil. Hy het nogtans die president se besluit om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Wes-Kaap en Gauteng te ontplooi om bende- en onwettige mynbedrywighede te beveg, verwelkom. Malema het Ramaphosa gekritiseer vir die vorming van nog meer taakspanne om met die land se vele probleme te worstel:
# Die MK-party sê die staatsrede was geldmors omdat president Cyril Ramaphosa se toespraak weer vol leë beloftes was. Vanjaar se staatsrede het belastingbetalers net meer as sewe-miljoen-rand gekos, hoofsaaklik weens die koste van gehuurde toerusting. Mzwanele Manyi van die MK-party sê van die probleme wat Ramaphosa nie aangespreek het nie, sluit in ekonomiese hervorming, korrupsie en verouderde waterinfrastruktuur:
# Die burgemeester van Kaapstad Geordin Hill-Lewis het die korttermyn ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om die polisie in bendegeteisterde brandpunte by te staan, verwelkom. Dit volg op president Cyril Ramaphosa se voorneme om soldate te ontplooi waar gemeenskappe in die Wes-Kaap onder beleg van bendes is en in Gauteng onder onwettige mynbedrywighede ly. Hill-Lewis het Ramaphosa uitgedaag om dringend op te tree en die regte oplossings vir bendemisdaad te vind met skuldigbevindings en hulp van die metropolisie om saam met die SAPD bende-, vuurwapen- en dwelmmisdade te ondersoek.
# Sokker: Arsenal het die kans verbeur om met ses punte aan die bopunt van die Premierliga-lys te staan na ‘n gelykop-uitslag van een-elk teen Brentford in Londen. Noni Madueke het die Gunners in die tweede helfte laat voorloop, maar die Bees het dit gelykop gemaak met ‘n kopskoot van Keane Lewis-Potter uit ‘n lang ingooi wat hul Europese hoop laat opvlam het. Mikel Arteta sê hulle het nie sterk verdediging teen Brentford gehad nie. Arsenal het nou ‘n gaping van vier punte met Manchester City in die tweede plek, Aston Villa in die derde en Manchester United in die vierde posisie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 33-duisend-391-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-984-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Wêreldradiodag word vandag gevier met die tema: “Radio en Kunsmatige Intelligensie: KI is ‘n instrument, nie ‘n stem nie”. Die dag gee erkenning aan die betekenisvolle rol wat radio meer as ‘n eeu lank al speel as ʼn medium wat inlig, vermaak en gemeenskappe reg oor die wêreld verbind. UNESCO sê vanjaar se tema beklemtoon dat indien kunsmatige intelligensie eties en verantwoordelik gebruik word om professionele oordeel, kreatiwiteit en waardes in openbare diens te ondersteun, dit ʼn bondgenoot kan wees wat gehore se vertroue versterk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….