Nuus 07:00
BULLETIN 13 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering sal die strafregstelsel regruk
# Suid-Afrikaanse suikerrietkwekers sê die plaaslike suikerbedryf is op sy laaste bene
# En die Donald Trump-administrasie beëindig sy immigrasie-optrede in Minnesota
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is vasbeslote dat die Madlanga-kommissie se bevindings en aanbevelings die grondslag sal lê vir hervorming in die strafregstelsel. Hy het gisteraand in sy staatsrede gesê die oppergesag van die reg hang af van ‘n polisiediens wat eties is en optree, en gevestig is in die gemeenskap wat hy dien. Ramaphosa sê diegene wat uitpraat oor korrupsie, mag nie geteister en geteiken word nie:
Ramaphosa sê ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sal ontplooi word om die polisie by te staan in die stryd teen bendegeweld en onwettige mynbedrywighede in die Wes-Kaap en Gauteng. Ramaphosa sê hy sal die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies inlig oor die tyd en plek waar soldate ontplooi sal word en wat dit gaan kos:
# Die Suid-Afrikaanse suikernywerheid staar ‘n ernstige krisis in die gesig met Tongaat Hulett wat nader aan likwidasie beweeg. Die maatskappy se meulens, raffinaderye en verbouing van suikerriet ondersteun duisende klein- en grootskaalse produsente in KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Die voorsitter van die SA Suikerrietkwekersvereniging, Higgins Mdluli, waarsku die ineenstorting bedreig die lewensbestaan van duisende suikerrietprodusente. Mdluli doen ‘n beroep op die regering en Tongaat se reddingspraktisyns om dringend die voortsetting van die meulbedryf te verseker en produsente se inkomste te beskerm:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het tenderpreneur Vusi “Cat” Matlala toestemming gegee om voor sy voorverhoor met sy prokureurs by die Kgosi Mampuru C-Max-gevangenis in Tshwane te konsulteer. Matlala, wat teregstaan op 25 ernstige aanklagte, insluitend 11 aanklagte van poging tot moord, het saam met sy vrou, Tsakane en drie medebeskuldigdes in die hof verskyn. Die hof het Korrektiewe Dienste gelas om ‘n ruimte vir privaat, onbeperkte gesprekke te voorsien. Die voorverhoor is uitgestel en sal na verwagting op 26 Februarie voortgaan.
# President Donald Trump van Amerika se grens-tsaar, Tom Homan, sê hy beëindig die klopjagte op onwettige immigrante in Minnesota. Operasie Metro Surge het tot massabetogings gelei. Meer as vier-duisend onwettige immigrante is gearresteer en immigrasiebeamptes het twee Amerikaanse burgers doodgeskiet. Tydens die hoogtepunt het ongeveer drie-duisend immigrasiebeamptes in Minnesota gewerk. Homan sê hy sal ʼn bietjie langer op die toneel bly om toesig te hou oor die agente se onttrekking:
# Tennis: Suid-Afrika kom die eerste keer in ses jaar teen Bosnië en Herzegowina te staan in hulle Davisbeker Wêreld Groep Twee tuiswedstryde in September. Die span het hul plek in die groep behou nadat hulle Montenegro verlede week in Centurion met 3-2 geklop het. Kaptein Pietie Norval sê hulle is vol vertroue dat die tuisskare en plaaslike toestande tot sukses sal bydra wanneer hulle meeding vir ʼn plek in die 2027 Wêreld Groep Een promosie-uitspeelwedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-528-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-975-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….