Nuus 15:00
BULLETIN 12 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Majodina sê dis nie nodig om ‘n waterramp in Gauteng af te kondig nie
# Krieket: De Kock steek De Villiers verby as Suid-Afrika se voorste lopiemaker in T20-Wêreldbekertoernooie
# En Britney Spears verkoop haar hele musiek-katalogus
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê evaluerings toon dis nie nodig vir ‘n waterramp-afkondiging in Gauteng nie. Sy het in Midrand beklemtoon aandag word tans geskenk aan lekkasies en die bestendigheid van reservoirs voor bykomende reënwatergebruik oorweeg sal word. Majodina verseker die situasie is onder beheer en sê die departement, in samewerking met munisipaliteite, fokus daarop om infrastruktuur te herstel en watervoorsiening doeltreffend te bestuur:
# ‘n Senior ondersoekbeampte van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Nomsa Masuku, het voor die Madlanga-kommissie getuig ‘n polisievoertuig van Brakpan, bestuur deur die reservis Alexander Fritz, is by die sakeman Emmanuel Mbense se ouerhuis gevind die dag toe sy liggaam ontdek is. Die vermoorde Getuie D, Marius van der Merwe, het Fritz betrek by marteling, moord en wegdoening van Mbense se liggaam. Masuku sê die motor was by die huis op haar ondersoekdatum:
Nuus uit die buiteland:
# Eerste minister Benjamin Netanyahu het aangekondig Israel het aangesluit by die Amerikaanse president, Donald Trump, se Vredesraad. Beeldmateriaal is vrygestel van ‘n dokument met sy handtekening op oor Israel se aansluiting ná sy vergadering met die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, in Washington. Die raad vorm deel van Trump se vredesplan vir Gaza om toesig te hou oor die gebied se tydelike regering. Trump het daarna gesê die raad, met hom as voorsitter, sal uitgebrei word om wêreldwye konflikte aan te pak.
# Krieket: Aanvangskolwer Quinton de Kock het die legendariese AB de Villiers verbygesteek as Suid-Afrika se voorste lopiemaker in T20-Wêreldbekertoernooie. Sy 59 in gister se riller teen Afganistan het sy totaal tot 737 laat styg teenoor De Villiers se 717. Die Proteas het uiteindelik in die tweede super-boulbeurt geseëvier nadat hulle die kans verspeel het om Afganistan in die 20ste boulbeurt uit te boul. Die eerste super-boulbeurt was gelykop, waarna Afganistan nie die teiken van 24 in die tweede een kon haal nie. Suid-Afrika speel Saterdag teen Nieu-Seeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-134-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-61-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse pop-superster Britney Spears het al die regte op haar musiekkatalogus verkoop. BBC berig die 44-jarige het dit glo op 30 Desember vir meer as 3,1-miljard-rand verkoop aan die onafhanklike musiekuitgewer Primary Wave. Haar langdurige kuratorskap het lank haar persoonlike en beroepslewe bepaal. Sy is bekend vir treffers soos Baby One More Time, Oops! I Did It Again, en Toxic. Spears het in Januarie 2024 gesê sy sal nooit na die musiekbedryf terugkeer nie. Haar laaste liedjie was ‘n duet saam met Elton John in 2022.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….