Nuus 13:00
BULLETIN 12 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Stad Tshwane waarsku sy waterverspreidingsnetwerk stort ineen
# AfriForum hou die Lugmagsersant Michael Swanton se moordsaak noukeurig dop
# En Olimpiese Spele: Die gasheer, Italië, verower goud in mans- en vroue-rodel
# Die Stad Tshwane waarsku sy waterverspreidingsnetwerk is besig om ineen te stort en sê inwoners moet minder water gebruik. Die metro sê die netwerk is onder groot druk omdat die invloei van Rand Water voortdurend teen lae druk plaasvind en deur hoë verbruik vererger word. Woordvoerder Selby Bokaba sê die uiters hoë verbruik het ‘n negatiewe uitwerking op die hoofreservoirs in streke 1, 3 en 4:
# AfriForum hou die moordsaak van die Lugmagsersant Michael Swanton noukeurig dop te midde van kommer oor die beskuldigdes se politieke verbintenisse. Swanton is verlede maand in die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes doodgeskiet. Twee BBP-beskermingsbeamptes wat verbind word met burgemeester Douglas Maimane is aangekla en uit op borgtog. Jacques Broodryk van AfriForum sê hulle sal toesig hou oor die verrigtinge om moontlike inmenging te voorkom en deursigtigheid te verseker:
# SANParke sê nuwe besoekers-bevestigingsprosesse het by die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad begin. Digitale identiteitskaart-skandering word nou by Kaappunt en die Boulders-pikkewynkolonie gebruik om die regte pryse vir afslagtariewe te verseker. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê vrywaringsvorms vir algemene dagbesoekers is nie langer nodig nie, maar geld steeds by sekere piekniek- en braaiplekke:
Nuus uit die buiteland:
# Leiers van die Europese Unie gaan vandag openhartige gesprekke in België voer oor hoe om te verseker hulle word nie ekonomies agtergelaat deur Amerika en China of onder druk geplaas deur hulle tariewe en uitvoerbeperkings nie. Die groep worstel met die Amerikaanse president, Donald Trump, se handelsoorlog en Chinese beperkings op die uitvoer van kritieke minerale. Die EU toon aanhoudend stadiger groei as die twee moondhede. Die president van die Europese Raad, Antonio Costa, sal die leiers in die 16de-eeuse Alden Biesen-kasteel in die ooste van België ontvang.
# Olimpiese Spele: Die gasheerland Italië is in die wolke nadat sy mans én vroue gouemedaljes in die dubbele rodelbyeenkoms verower het op die Milano Cortina-Winterspele. Andrea Voetter en Marion Oberhofer het eers die vroue-dubbel-kampioene geword en Duitsland se ystergreep op die sport beëindig. Hulle is die eerste Italiaanse vroue wat goud in die item verower sedert Gerda Weissensteiner in 1994 die enkelkompetisie gewen het. Emanuel Rieder en Simon Kainzwaldner het daarna die mansafdeling gewen na Amerika ‘n fout gemaak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-208-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-73-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….